Elvis Musimeki (34) en Zimba Shimedzi (26), albei Zimbabwiese burgers, is volgens die polisie in die Bela-Bela-township met gesteelde eiendom in hul besit betrap.
Hulle word met drie inbrake in die Tweefontein-omgewing verbind.
Die vermoedelik gesteelde eiendom sluit meestal gereedskap en huishoudelike toestelle in. Volgens sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het daar reeds inwoners vorendag gekom en van hul gesteelde eiendom uitgewys.
Maponya sê die twee verdagtes kon geen bewys lewer dat hulle wettig in die land is nie.
Musimeki en Shimedzi het reeds vlugtig in die Bela-Bela-landdroshof verskyn op aanklagte van huisbraak en diefstal. Hulle word ook daarvan aangekla dat hulle onwettig in die land is.
Die saak is na Maandag 22 Julie uitgestel. Die mans bly intussen in aanhouding.