MunicipalNews

Modimolle-Mookgophong se geldsake lyk beroerd

“Dit is raadslede se plig om die bestuurders verantwoordelik te hou.”

Tree nóú op en trek die finansiële gordel stywer.

Die onafhanklike ouditkomitee van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het nie doekies omgedraai nie tydens hul voorlegging in ’n marathon agt uur lange raadsvergadering oor die stand van die munisipaliteit se geldsake.

Ezekiel Mphahlele, voorsitter van die komitee, het tydens sy voorlegging raadslede hard aangespreek en gesê daar moet met dringendheid opgetree word om die geldsake reg te ruk. Anders moet hulle hulself afvra hoekom hulle op die raad dien.

“Dit is raadslede se plig om die bestuurders verantwoordelik te hou,” het hy gesê.

Hy blameer die bestuurders dat hulle daarin gefaal het om betyds op te tree om die munisipaliteit se geldsake reg te ruk.

Die Pos berig reeds lank oor die munisipaliteit se benarde finansiële posisie met reuseskuld aan Eskom as een van die grootste probleme.

Die ouditkomitee se voorlegging het oor die vorige en huidige boekjare gehandel. Van die punte wat uitgelig is, is dat die bestuurders nie die ouditkomitee respekteer nie en nie vir vergaderings opdaag nie, interne ouditkontroles swak is en die bestuur nie verantwoordelik vir hul optrede gehou word nie. Die munisipaliteit maak ook glo te veel staat op konsultante wanneer hulle self die werk kan doen. “Wat is die nut daarvan om ’n finansiële persoon aan te stel as hulle nie self state kan opstel nie?” het hy gevra. Die verslae wat deur konsultante opgestel is, was glo ook van powere gehalte.

Die munisipaliteit het ’n vrywaring (disclaimer) vir die finansiële state van 2017/2018 van die ouditeur-generaal ontvang. Dit is in dié tyd dat Marlene van Staden, burgemeester, hulp van die provinsiale regering in terme van artikel 139 gevra het. Die nasionale tesourie het ook ’n forensiese ondersoek geloods na die wanbesteding van infrastruktuurtoelaes en ongemagtigde betalings.
Die uitslag van die ondersoek is egter steeds nie bekend nie.

Die ouditkomitee het gesê dat die raad wel vordering gemaak het met die aanstelling van ’n waarnemende munisipale bestuurder wat verantwoordelik gehou sal word vir probleme. Die fokus moet nou val op die plasing van die personeel wat van twee munisipaleite af kom ná die samesmelting van Modimolle en Mookgophong in 2016. Hy het gesê dat hy besef dat die plaaslike regeringsorganisasie (Salga) ook voete sleep.

Hy het streng gewaarsku dat die munisipaliteit sy gordel aansienlik stywer sal moet intrek om uit die moeilikheid te bly. “Krediteure word nie betyds betaal nie omdat daar ’n tekort aan kontantvloei is. Dit lei tot hoër rente wat die munisipale koffers verder leeg tap,” het hy gemaan. “Beter invordering en die sny van onnodige uitgawes is baie belangrik. Geldsake moet die hoofprioriteit word.”

Hy het ook genoem dat die munisipaliteit ’n R85 miljoen voorwaardelike toedeling kwyt is omdat daar nie aan die voorwaardes voldoen is nie. “Vir ’n munisipaliteit met so ’n klein begroting is dit ’n groot verlies.”

Johann Abrie, DA-raadslid, het ontsteld gesê dat dié ouditverslag raadslede laat lyk soos die spreekwoordelike keiser sonder klere. “Ons het verlede jaar dieselfde boodskap gehoor, maar vanjaar sit ons maar weer in dieselfde bootjie. Ons moes meer gedoen het om die amptenare verantwoordelik te hou. Die munisipale bestuurder moet onmiddellik optree,” het hy gesê.

Patrick Mashaba, ANC-raadslid, het gesê hulle moes dié verslag reeds ’n jaar gelede ontvang het om betyds op te tree.

“Ons almal is gefrustreerd deur die bestuurders wat nie hul samewerking wil gee nie. Ons kan nie elke keer eers wag dat ons ’n verslag kry voordat ons optree nie,” het hy gesê. Mashaba het raadslede aangespreek en gesê dat die raad in 2011 ’n gekwalifiseerde ouditverslag gekry het, maar kon dit regstel deur saam te werk. “Name and shame die amptenare wat nie saamwerk nie,” het hy heftig gesê.

Van Staden het by navraag oor die stappe wat die raad geneem het om die probleem te voorkom, gesê dat die raad gedoen het wat hulle kon. “Ons het die vorige ouditverslag aanvaar en die administrasie opdrag gegee om op te tree. Hulle het egter niks gedoen nie. Ek, raadslede Patrick Mashaba, Thinus Botha en ’n raadslid van die EFF het die LUR vir CoGHSTA twee keer oor die kwessie besoek, sonder resultate.” In dié tydperk het Mapule Mokoko opgetree as administrateur en waarnemende munisipale bestuurder onder die vlerk van die provinsie.

Volgens Van Staden het die raad tydens die vergadering die ouditkomitee se voorstelle aanvaar en opdrag gegee dat die rekeningkundige beleid hersien word voordat die jaarlikse finansiële state opgestel word. Die ouditkomitee is ook opdrag gegee om ’n volledige ondersoek te loods na watter amptenare verantwoordelik is vir die swak uitslae en moet binne 60 dae verslag doen hieroor.

“Ons is hoopvol dat die situasie beter sal lyk in die 2018/2019 boekjaar. Ons is intussen onder administrasie geplaas en het ’n R70 miljoen reddingsboei ontvang. ’n Adviseur wat deur die tesourie aangestel is, Mervin Reddy, was deel van die span en die finansiële herstelplan is aanvaar,” het sy gesê.

Related Articles

Back to top button