MunicipalNews

Limpopo-munisipaliteite se verkwisting wek groot kommer

Bela-Bela het in totaal R31,9 miljoen onreëlmatig bestee. Die dorp se munisipaliteit het ook in totaal R51,1 miljoen ongemagtigde uitgawes en R2,2 miljoen se vrugtelose uitgawes getoon.

Munisipaliteite regoor die land — maar veral in Limpopo, Noordwes en die Noord- Kaap — het baie swakker gevaar in die 2017-2018-boekjaar se oudits as in vorige jare.

Kimi Makwetu, ouditeur-generaal (OG), het op Woensdag 26 Junie in Pretoria bekend gemaak dat slegs 18 uit die 257 munisipaliteite en 21 munisipale entiteite skoon oudits ontvang het. Twaalf van dié 18 munisipaliteite val in die Wes-Kaap.

Verlede jaar het die OG 33 skoon oudits uitgereik.

Altesame 63 munisipaliteite het in die 2017-2018-boekjaar agteruit geboer en slegs 22 munisipaliteite het verbeter wat besteding betref.

Luidens die verslag het geen munisipaliteit in Limpopo ’n skoon oudit ontvang nie.

In die Waterberg-omgewing het die Modimolle-Mookgophong en die Thabazimbi-munisipaliteite geen ouditmenings ontvang nie. Dit word toegeskryf daaraan dat dié munisipaliteite nie hul finansiële state en inligting betyds aan die OG verskaf het nie.

Bela-Bela- en die Waterberg-distrikmunisipaliteite het albei gekwalifiseerde ouditmenings ontvang.

Die OG het oor dié twee munisipaliteite gesê dat hul finansiële inligting, nes die vorige jaar, nie voldoende was nie.

Die OG het vanjaar ook bekend gemaak hoeveel geld elke munisipaliteit wanbestee of sonder goedkeuring bestee het. Bela-Bela het in totaal R31,9 miljoen en die Waterberg-distrik R330 000 onreëlmatig bestee.

Bela-Bela het ook in totaal R51,1 miljoen ongemagtigde uitgawes en R2,2 miljoen se vrugtelose uitgawes getoon, lui die verslag Tinus Ras, DA-raadslid in Bela-Bela, het by navraag gesê die OG se bevinding is nie ’n verrassing nie.

“Groot bedrae geld word wanbestee. Hierdie wanbesteding kan aan onkunde toegeskryf word en nie noodwendig aan korrupsie nie. Die finansiële voorskrifte word in baie gevalle omseil.”

Hy meen dié situasie kan slegs reggestel word as die hoof- finansiële beamptes en die munisipale bestuurders toesien dat geld reg bestee word. Geen projekte mag sonder hul goedkeuring aanvaar word nie en munisipale personeel moet hul werk reg doen.

“Die OG kan dan die hoof-finansiële beamptes en munisipale bestuurders persoonlik aanspreeklik hou vir die wanbesteding van geld.”

Die Pos het aan Kabelo Mosito, Bela-Bela munisipale woordvoerder, navrae gestuur oor waar sake vir dié munisipaliteit skeefgeloop het, maar teen druktyd het hy nog nie gereageer nie.

Jacques Smalle, die DA se provinsiale leier, het in reaksie gesê die DA het ’n mosie by die kantoor van Seaparo Sekoati, LUR van ekonomiese ontwikkeling, omgewing en toerisme, ingedien waarin gevra word dat aanspreeklikheid en dissiplinêre stappe binne munisipaliteite moet plaasvind.

Hy het klem gelê op die departement van samewerkende regering (CoGHSTA) wat glo nie die wilskrag het om amptenare en politici aanspreeklik te hou vir wanbestuur en korrupsie nie.

Die OG meen bykans elke wysiging of raad wat sy kantoor aan munisipaliteite in Limpopo gerig het, is blatant geïgnoreer.

Aanspreeklikheid binne munisipaliteite word ook as heeltemal gebrekkig beskryf, veral gesien in die lig daarvan dat 74% van al die munisipaliteite besluit het om nie bewerings van bedrog en wangedrag in hul finansiële afdeling te ondersoek nie.

Verder is ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes in 64% van die munisipaliteite landwyd nie ondersoek nie. Onreëlmatige uitgawes het in die 2017/2018-boekjaar landwyd R25,2 biljoen beloop.

Die OG is verder bekommerd dat Limpopo-munisipaliteite konsultante teen astronomiese vergoeding gebruik pleks daarvan om hul eie amptenare met die nodige vaardighede toe te rus en kundige personeel aan te stel wat die werk kan doen.

Limpopo-munisipaliteite het saam meer as R5 biljoen se onreëlmatige uitgawes aangegaan.

Die munisipaliteite wat uitgesonder is as reusewanbesteders, is Mogalakwena (R374 miljoen), Groter Letaba (R96 miljoen), Polokwane (R89 miljoen), Elias Motsoaledi (R83 miljoen) en die Fetakgomo Tubatse-munisipaliteit (R77 miljoen).

Die OG het bevind dat hierdie wanbesteding tot toenemende diensleweringsbetogings in die onderskeie munisipaliteite gelei het.

Related Articles

Back to top button