Local newsNews

Motorryers wag in spanning om te hoor van e-tolgeld

Motorryers wat tussen Limpopo en Gauteng pendel, ontvang steeds e-tolrekenings in hul posbusse, al word daar beloftes deur sekere politieke figure gemaak dat die e-tolstelsel iets van die verlede is.

Gauteng Premier, David Makhura, het op Maandag 1 Julie weer ’n soortgelyke belofte gemaak tydens sy provinsiale staatsrede.

Die e-tolstelsel het vir motorryers wat ’n e-tolskyfie aangeskaf het, verligting gebring deurdat hul nie nodig het om in lang rye by tolhekke te staan nie. Voertuie met ’n geldige skyfie glip letterlik langs die ander voertuie verby. Die N1-snelweg is bekend vir ure se tydverkwisting by tolhekke. Die vraag het al ontstaan of tolhekke nie tydens spitstye net oopgestel moet word nie.

Die vraag op almal se lippe is of die e-tolstelsel wel afgeskaf gaan word en indien wel, wanneer? Selfs politici praat uit verskillende monde oor dié sensitiewe saak.

Daar heers ook onsekerheid oor of motorryers wat versuim het om te betaal, met hofsake of bykomende boetes gekonfronteer gaan word. Die regering het vroeër verklaar dat die Suid-Afrikaanse Padagentskap (Sanral) nie uitstaande skuld deur middel van dagvaardings moet verhaal nie.

Volgens Vusi Mona, Sanral-woordvoerder, loop motorryers wat versuim om hul e-tolrekening te betaal, steeds ’n risiko, want volgens rekords is daardie geld steeds uitstaande.

“Die besluit in Maart vanjaar, om dagvaardings vir uitstaande skuld op te skort, is slegs ’n tydelike reëling. Die besluit is geneem om die regering kans te gee om samesprekings te hou met al die rolspelers en ’n beleid te vorm hoe die situasie verder hanteer moet word. Die opskorting van dagvaardings is slegs tydelik en die besluit kan herroep word,” het hy gesê.

Mona het voorts gesê indien die besluit geneem word om mense weer te dagvaar, sal dit landwyd bekendgemaak word.

Hy het by navraag aan Die Pos benadruk dat Sanral slegs as uitvoerende gesag van die e-tolstelsel optree. Die befondsingsraamwerk en die e-tolbeleid word steeds deur die regering bepaal.

“Sanral verbind hom daartoe om saam met die president en die departement van vervoer ’n bekostigbare uitweg te soek en om ’n beter oplossing te vind. Intussen raai ons steeds alle motorryers aan om hul rekenings stiptelik te betaal.”

Related Articles

Back to top button