CrimeNews

Angsnag in plaashuis

Iets het geklink soos ’n leeu wat in die huis grom en skielik sien ons net selfoonligte en my ma wat deur die rowers in ons kamer ingelei word.

’n Bekende egpaar en hul bejaarde ma het ’n nagmerrie-ondervinding gehad nadat hulle in die vroeë oggendure in hul plaashuis naby Radium buite Bela-Bela deur rowers oorval is.

Hendrik en Linda Prinsloo, asook Linda se ma, Seilie van der Linde, herstel steeds van die skokgebeure wat in die oggendure van Donderdag 20 Junie soos ’n rillerfliek voor hul oë afgespeel het.

Volgens Linda, ’n Sanlam-makelaar van Bela-Bela, het hulle die betrokke oggend om 03:00 wakker geskrik van haar ma se bloedstollende gil. Vier rowers, drie mans en ’n vrou, was toe reeds in hul plaashuis wat naby die Lehau/Settlers-pad in die Mackenzie-omgewing geleë is. ’n Vyfde rower het glo buite die huis waggehou.

Linda het aan Die Pos vertel dat hulle onder die indruk was dat die veiligheidsmaatreëls in en rondom hul plaashuis voldoende was. Die rowers is egter nie afgeskrik deur die terrein wat goed belig was nie en die booswigte het die alarms en veiligheidsensors onskadelik gestel.

Hulle het deur die buurman se heining geklim en so toegang tot die Prinsloos se eiendom gekry, het sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, gesê.

Dit blyk dat die rowers die glas van ’n klein venster van die huis uitgehaal het. Een van die rowers het volgens Linda vermoedelik deur die opening geklim en daarna die deur vir die ander drie oopgesluit.

“Iets het toe geklink soos ’n leeu wat in die huis grom en skielik sien ons net selfoonligte en my ma wat, met haar beursie teen haar bors vasgeklem, deur die rowers in ons kamer ingelei word.
Van der Linde het blykbaar die rowers oortuig om die geld uit haar beursie te neem, maar die beursie, met al haar kaarte, aan haar terug te gee.

“Dit was ’n magtelose gevoel met daardie ligte wat skielik op ons geskyn het,” het Linda gesê.

Volgens Linda was twee van die aanvallers gewapen met handwapens en ’n derde met ’n AK47-geweer. Hulle het handskoene gedra en daar was lappe om hul gesigte gebind.

Die Prinsloos en Van der Linde is op die bed in die hoofslaapkamer vasgemaak en daar gelaat terwyl die rowers die huis deursoek het.

“Die kleingeboude rower het aan ons gesê dat hulle ons nie gaan seermaak nie en dat hulle net geld en wapens soek, maar die een met die AK47 was baie aggressief. Die rowers het alles oopgepluk en drade uitgeruk. Hulle het selfs die alarmsensors toegemaak,” het Linda gesê.

Die rowers het op Linda se versoek gereageer en ’n kombers gebring om haar ma mee toe te gooi nadat Linda aan hul gesê het sy is bejaard en kry baie koud. Een van die rowers het selfs ’n glas water gebring nadat Van der Linde begin hoes het.

Die man met die AK47-geweer was egter deurgaans onverbiddelik en het by herhaling gedreig om hulle te skiet indien hul sou beweeg.

“Toe dit stil geraak het, het ek myself losgewoel en toe my ma en vir Hendrik losgemaak. Min het ons geweet dat die rower met die AK47-geweer steeds in die huis was en dat hy weer ’n draai by ons sou kom maak. Hy het in die deur gestaan en sy geweer oorgehaal. Met genade het hy nie gesien ons hande was reeds los nie,” het Linda gesê.

Hulle het nog vir ’n lang ruk in die stilte van die nag gelê en toe die nuwe dag breek, het Linda gedink dit is veilig om op te staan. Hendrik het na die bure gehardloop en hulp ontbied.

Die buurtwag, polisie, asook lede van die Heritage Protection Group (HPG) het hul na die toneel gehaas, maar die rowers was reeds skoonveld.

Die rowers het juwele, kontant, selfone, huishoudelike items en ’n handwapen gebuit. Hulle het selfs wasgoedpoeier gesteel, het Linda gesê. Volgens haar het die aanvallers presies geweet waarna hulle soek, want haar kostuumjuwele is net so gelaat. Die ander juweelstuk wat ook nie gevat is nie, is Linda se silwer kruis.

Die polisie se forensiese deskundiges het nà die roof die huis deeglik gefynkam en ’n mes en ’n skerp stuk yster, wat glo deur die rowers agtergelaat is, aan die voet van die bed gevind. Hendrik se bakkiesleutels is ook later in ’n nabye veld gevind.

Emden Els, voorsitter van die Radium-buurtwag het gesê hulle vermoed dat die rowers die vrou, wat saam met hulle was, deur die venster gestuur het om die huis oop te sluit.

“Dit raak al hoe erger hier, want daar word gereeld kleiner diefstalsake deur inwoners aangemeld,” het Els gesê. “My raad is dat mense honde by hulle wonings aanhou — klein honde wat binnein die huis bly om alarm te maak en groot honde buite om boosdoeners af te skrik. Al dink inwoners die versorging van honde is moeite, sal hul die aanpassing moet maak.”

Linda het hul dank uitgespreek vir die Here se beskermende hand, want behalwe vir die skok en die merke waar hulle styf vasgemaak was en ’n hou teen Linda se kop, het die rowers nie die gesin verder seergemaak nie.

Linda het ook haar dank uitgespreek teenoor die polisie, die Radium-buurtwag, HPG, hul bure, gemeentelede van die Afrikaanse Protestante Kerk, familie, vriende en die gemeenskap wat hulle ondersteun het.

Die ondersoek na die verdagtes duur voort, het Maponya gesê.

Related Articles

Back to top button