BlogsOpinion

Hoofartikel: Om die voëltjies te laat gaan

Die ding wat bykans elke ouer een of ander tyd ervaar: Om die nes oop te maak. Om te laat gaan.

“Asseblief dink tog vandag aan my,” vra ’n vriendin onlangs per WhatsApp.

Haar matriekseun ry op dié dag stad toe om sy sussie daar te gaan oplaai en terug te bring Bela-Bela toe.

 

Dit is ’n Vrydag. Die paaie is besig. En die kind het nog nooit alleen stad se kant toe gery nie.

“Ek word in een dag grys,” sê my vriendin.

“Asseblief bid vandag vir my kind,” vra ’n ander vriendin skaars ’n week later.

Haar dogter is ’n eerstejaarstudent in Potchefstroom en moet op dié dag vir die eerste keer met ’n huurmotor van Potchefstroom na die O.R. Tambo-lughawe ry en vandaar ’n vlug Kaap toe haal.

“Bid asseblief dat sy rustig en veilig sal wees en mooi duidelik die pad sal vind na die Car Rental Returns as sy daar aankom. Sy bestuur al pragtig, maar hierdie is ’n eerste vir ons,” laat weet my vriendin.

En ons bid heeldag lank dat die aanwysingsborde vir die kind sal flikker, dat iemand vir haar sal wys waar om te draai en waar om reguit te hou en dat die engele bo-op die huurmotor se dak sal sit.

Hier op die tuisfront spook ek met ’n kind wat nog nie ’n lisensie het nie, maar vir ’n week lank elke dag in Kempton Park moet gaan werk. Ons ken niemand daar nie. Ek en my man werk albei voldag en kan haar nie op en af karwei nie. Is sy te jonk om alleen in ’n gastehuis te bly? Kan ek haar laat über? Hoe laai ek my kind by ’n fabriek af waar meestal net mans werk? Dít is die dinge wat my snags laat rondrol.

Dieselfde ding wat bykans elke ouer een of ander tyd ervaar: Om die nes oop te maak. Om te laat gaan. Om diep asem te haal en ’n bang voëltjie ’n stootjie van agter te gee.

My gesin het ’n vreemde gewoonte — die pa se fluit; al van doeketyd af. Tussen malende menigtes in winkelsentrums, op besige lughawens, in volgepakte skoolsale sal almal aangaan met waarmee hulle besig is, maar myne sal omkyk na waar hulle pa se kenmerkende gefluit vandaan kom.

Vandag wens ek rustigheid wat alle verstand te bowe gaan vir alle ouers wie se kinders op die drumpel van die grootmenslewe staan.

Mag die flikkerligte vir hulle die weg wys. Mag hulle in die regte baan bly. En mag hulle ore oop wees vir die Groot Fluit. Want eintlik is dit al waarvan ons seker kan wees in hierdie onseker lewe.

Related Articles

Back to top button