LettersOpinion

Ramaphosa stel teleur met staatsrede

Daar is eerder gefokus op die verlede om as kapstok te gebruik vir die mislukkings van die ANC-regering waarvoor die president met geen klinkklare oplossing vorendag gekom het nie.

Dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront Plus-leier skryf:

Ná die groot verwagtinge wat die hele land gehad het oor president Cyril Ramaphosa se eerste staatsrede na die verkiesing wat rigtinggewend moes wees vir die land se toekoms en wat duidelike en positiewe seine moes uitstuur na beleggers, was sy toespraak ʼn groot antiklimaks.

Daar is eerder gefokus op die verlede om as kapstok te gebruik vir die mislukkings van die ANC-regering waarvoor die president met geen klinkklare oplossing vorendag gekom het nie. Geen duidelikheid is gegee oor wat gedoen gaan word om Suid-Afrika ekonomies te red nie.

Boonop sal enige plan wat wel voorgestel word van min of geen waarde wees solank die wolk van onteiening sonder vergoeding oor die ekonomie hang. Al wat seker is hieroor, is dat dit voortgaan, en die VF Plus keur dit ten sterkste af.

Die president het ʼn beroep gedoen op alle inwoners van Suid-Afrika om te begin betaal vir dienste deur te sê mense moet aanvaar die kragboikot is iets van die verlede. Dit sou egter nie help die verbruikers betaal, maar die geld kom steeds nie by die kragverskaffer uit nie.

Die groot probleem is nie net mense wat nie hul rekeninge betaal nie, maar munisipaliteite wat nie hul rekeninge aan Eskom betaal nie. Dit moet reggestel word. Die president sê ook nie wat gaan gebeur indien mense voortgaan om nie te betaal nie. Gaan hul krag voortaan gesny word? Dit is ʼn voorbeeld van ʼn konkrete voorstel oor hoe die probleem opgelos kan word.

Dieselfde geld werkloosheid, beleggings, die onderwys, gesondheid en misdaad. Planne van die verlede is herhaal en ʼn beroep is weer eens gedoen dat die privaat sektor en vakbonde met die regering moet saamwerk om groei te skep.

Die werklikheid is egter dat indien vakbonde se magte nie ingeperk word en arbeidswetgewing nie aangepas word om weg te doen met Regstellende Aksie (RA) nie, die ekonomie nie sal groei nie.

Staatsondernemings soos Eskom word selfs stywer aan die regering gebind met die enigste sekerheid dat die belastingbetaler nog jare vir die een reddingspakket na die ander gaan betaal.

President Ramaphosa het sy staatsrede met vae bewoording soos ʼn mooi droom vir die publiek geskets, maar die realiteit is dat dit ʼn nagmerrie is en die president sal dit agterkom wanneer hy wakker skrik.

Related Articles

Back to top button