LettersOpinion

Ondersteun ‘koop plaaslik’-oproep

“As ons Suid-Afrikaanse landbouprodukte kan koop, sal dit outomaties werkskepping bevorder.”

Louis Meintjies, president van TLU SA skryf:

Die Transvaalse Landbou-unie (TLU SA) meen pres. Cyril Ramaphosa se oproep, tydens sy tweede Staatsrede, om Suid-Afrikaans te koop, kon nie op ’n beter tyd kom nie.

 “Ons is werklik opgewonde oor die gedagte dat die Suid-Afrikaanse publiek eg Suid-Afrikaanse produkte moet ondersteun,” sê Mnr. Louis Meintjes, die President van TLU SA. “Veral ons Suid-Afrikaanse landbouprodukte behoort ondersteun te word en verbruikers moet probeer om uitskotprodukte van ander lande te vermy.

“As ons Suid-Afrikaanse landbouprodukte kan koop, sal dit outomaties werkskepping bevorder terwyl die kommersiële boere daardeur ’n kans op oorlewing het ten spyte van veral die klimatologiese uitdagings waarmee hulle te doen het,” sê Meintjes.

TLU SA het, net soos Pres. Ramaphosa, ’n droom vir Suid-Afrika, en dit is dat die land kan ontwikkel in ’n ekonomiese reus, geskoei op vryemarkbeginsels en vry van historiese en ideologiese vooroordele.

 “Ekonomiese vooruitgang is ’n toekomsvisie. Helaas is pres. Ramaphosa se aanvanklike verwysing na die 1913-wetgewing, meer as ’n eeu gelede, ’n kyk na die verlede in plaas van ’n toekomsvisie. As alle burgers as gelyk gerespekteer moet word, geld dit ook vir die Afrikaners.

“Ons glo ook dat pres. Ramaphosa nie realisties was in sy visie van twee miljoen werksgeleenthede vir jongmense oor die volgende dekade nie. Sy voorganger se een miljoen het nie eens gerealiseer nie. Om dit te bereik, sal hy moet afsien van rasgebaseerde ekonomiese bemagtiging en onvriendelike arbeidswetgewing moet aanpas.

“Pres. Ramaphosa se Staatsrede het, alhoewel daar nie veel nuuts in was nie, tog tot ’n mate van meer entoesiasme getuig as sy voorganger, maar woorde sal dade moet word. Tot dusver het ANC-regerings meer woorde as dade gebaar en hierdie regering sal moet wys dat hy daarvan kan afwyk,” sê Meintjes. “Ons is bereid om hom die voordeel van die twyfel te gee, maar ons het steeds baie twyfel in ons gemoed. Opmerklik is dat pres. Ramaphosa weer eens die geleentheid verpas het om daadwerklike steun aan die landbouers te bied en om plaasmoorde te veroordeel.

“Ons kan sy visie vir ’n hoë-tegnologie ekonomie ondersteun, maar dan sal hy hom onvoorwaardelik van enige vorm van sosialisme moet distansieer. Daarvoor wag ons egter nog steeds”.

Related Articles

Back to top button