![](https://images.caxton.co.za/wp-content/uploads/sites/134/2019/06/facebook-bedrog.jpg)
Die bedrieërs, wat die gewilde sosiale mediaplatform Facebook gebruik het, het hulle oortuig dat hul groot bedrae geld gewen het, maar eers ’n bedrag moes oorbetaal voordat hulle die prysgeld kon ontvang.
In die eerste geval is ’n vriend van die inwoner se Facebook-profiel gekraak. Dit het die bedrieërs in staat gestel om hulself as die vriend voor te doen. Die “vriend” het aan die inwoner gesê dat hy ’n ene Maria Greene op Facebook moet bevriend en dan ’n kans staan om R500 000 in ’n lotery te wen.
Volgens AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, het die inwoner so gemaak. “Maria Greene” het sy ID-nommer gevra en bevestig dat hy kwalifiseer om aan die lotery deel te neem.
Hy het daarna glo die geld gewen, maar is versoek om eers ’n betaling van R5000 via die selfoon te maak voordat hy die geld kan ontvang.
“Die vrou het die inwoner weer gekontak en ’n verdere R15 000 versoek. Die man het lont geruik en het die polisie genader,” het Findlay gesê.
Banke het ’n diens waar ’n persoon geld na ’n persoon kan stuur deur hul selfoonnommer te gebruik. Hulle ontvang ’n pin-kode en kan die geld by ’n kitsbank trek. Volgens die polisie is dit uitsonderlik moeilik om dié misdadigers vas te trek omdat hulle selfoonkaarte gebruik wat nie geregistreer is nie.
In die tweede geval is ’n vrou op die dorp op soortgelyke wyse ingeloop. Sy het op Facebook Messenger ’n skakel ontvang dat sy aan die “Facebook Lottery” kan deelneem. Die lotery bestaan egter volgens die ondersoekbeampte, AO Eugene Clarence, nie. Daar is aan die vrou gesê dat sy R200 000 gewen het maar eers R8000 na ’n selfoonnommer en ’n Money Market-rekening toe moet betaal voordat sy haar geld sal ontvang. Sy het te laat haar fout besef en is haar geld kwyt.
Volgens ’n verslag wat verlede jaar deur die Finansiële Intelligensiesentrum gelewer is, word Suid-Afrikaners toenemend deur internetbedrieërs geteiken. Van die slenters sluit in werksaanbiedings oorsee, wat veral op jonger, gekwalifiseerde mense gerig is, leuens dat hulle kan aanspraak maak op ’n erfporsie en geld wat in aanlynspeletjies gewen kan word.
Die Modimolle-polisie ondersoek die twee sake.
“Die polisie waarsku mense om op hul hoede te wees vir boodskappe wat uit die bloute opdaag en sê dat hulle geld gewen het. Dit is ’n duidelike waarskuwingsteken as hulle vra dat jy eers geld moet inbetaal,” het Findlay gesê.
Inwoners wat dieselfde stel afgetrap het of wat inligting het, kan die ondersoekbeampte AO Eugene Clarence skakel by tel. 082 943 1214.