Susan is ’n woordkunstenaar

“Daar is altyd ’n hand wat jou lei en omstandighede behoort niemand te definieer nie.”

“Om uiting te gee aan die emosies wat mense daagliks beleef, is soms nodig. Want anders raak die lewe bitter en leeg.”

Dit is die woorde van Susan Vosloo (70) van Bela-Bela, Die Pos se brugbouer vir Junie.

Sy en haar man Chris (69) woon nou al amper ’n jaar in Bospoort, net buite die dorp, nadat hulle uiteindelik, ná talle omswerwinge, hul rusplek gevind het.

Chris was jare gelede betrokke by die destydse Warmbad-munisipaliteit waar hy in die finansiële afdeling gewerk het. Susan het die kliniek, langs die munisipale gebou, in 1979 geopen.

Haar loopbaan in verpleegkunde het haar onder meer na Plettenbergbaai, Lephalale én Pretoria geneem. In Pretoria was sy jare lank dosent by die SG Verplegingskollege waar baie verpleegkundige studente onder haar hand afstudeer het.

Sy het onlangs haar debuut digbundel, Doringbos en Draaisirkel, uitgebring. Die sentrale tema in die bundel handel oor die lewe, liefde, vrees en die emosies van ’n ma. Haar oorlede seun, Christiaan, was die inspirasie om haar emosies te verwoord.

“Daar is altyd ’n hand wat jou lei en omstandighede behoort niemand te definieer nie. Al moet ’n mens oor begin, kan jy ’n sukses maak — net daar waar jy jouself bevind,” het sy gesê.

“Die gedigte gaan oor emosies wat in woorde omskep word en bied ’n perfekte uitlaatklep. Indien mense nie woorde het nie, is hulle geneig om eerder klippe te gooi.”

Watter liefdadigheidsinstansie lê jou ná aan die hart?

Enige plek wat fokus op bejaardes en kinders. Want hierdie mense is die weerloses in die samelewing. Geen bejaarde of kind moet honger of koud gaan slaap nie.

As jy ’n R1 miljoen ontvang om in jou gemeenskap te bestee, wat sou jy eerste doen?

Ek sou sorg dat die verwaarloosde kinders en bejaardes die nodige aandag geniet. Weer eens, kinders moet nie honger of koud gaan slaap nie. Bejaardes wat hulle hele lewe deur hard gewerk het, afgetree en skielik finansieel sukkel, behoort ondersteuning te kry.

Wat dink jy is die toekoms van klein dorpies soos Bela-Bela, Vaalwater, Modimolle of Mookgophong?

Ek hoop vir ’n goeie toekoms, maar mense moet meer betrokke raak by munisipale aangeleenthede. Indien mense nie toetree en betrokke raak nie, sal ons dorpe tot niet gaan.

Watter aanhaling inspireer jou?

Wat jy kan verander, moet jy verander. Dit wat jy nie kan verander nie, moet jy aanvaar. Anders word ’n mens bitter en negatief.

Watter persoon het jou pad gekruis wat jou oortuig het dat dit nodig is om brûe te bou?

Dina Joubert, ’n afgetrede matrone wat destyds werksaam was by Warmbad-hospitaal. Sy sien die positiewe in elke situasie. My pa, Basie Grové, het ook bygedra. Hy het nie baie gepraat nie, maar het eerder gedoen. Hy het altyd gesê dat “niemand bitter koffie moet drink nie.”

Wat wag nou ná aftrede?

Hoewel ons mal is oor reis, kry ons nie deesdae baie kans nie. Maar ons is aktiewe lidmate van die Hervormde-gemeente en Chris is steeds aktief in die gemeenskap. Ek behoort ook aan die leserskring.

Wat is jou droom vir jou gemeenskap?

Ek dink dat ons tog ’n funksionele gemeenskap kan wees. Dat indien munisipale pligte uitgevoer word, die inwoners sal uitreik na ander persone in die gemeenskap en sal help om ’n beter toekoms vir almal te skep. Ook dat mense altyd ’n middeweg in elke situasie sal soek.

* Vosloo skenk een van haar digbundels aan ’n gelukkige le-ser. Om in aanmerking te kom vir dié bundel moet lesers voor 15:00 op Vrydag 28 Junie ’n SMS stuur na tel. 083 654 5819 met hul naam, van en die dorp waar hul woon.

Related Articles

Back to top button