NewsSchools

Jong digter bring hulde aan Afrika

’n Belowende jong digter in Vaalwater se skryftalent het aan hom die wenprys tydens ’n poësiekompetisie besorg.

Die tema by Waterberg Academy in Vaalwater se poësie-aand wat op Donderdag 9 Mei gehou is, was ‘Africa, my Africa’.

Die leerders het weer flink ingeskryf en Joshua Hein (gr. 11) het met ’n pragtige Afrikaanse gedig, getiteld “My Afrika”, met die louere weggestap.


My Afrika

Ek sien my Afrika

In “ons ver verlate vlaktes”, en oneindige berge
In ’n kliphuis vol herinneringe teen die mure
In die horison wat myle strek
En, in die bloed en sweet van my mense

Ek hoor my Afrika

In die wysie van ’n boeremusiekliedjie
In die psalm wat gesing word deur my kerk
Op my oupa se skoot, en in die stories van die verlede

Ek proe my Afrika

In die vleis van `n skaapbraai
In die droë koedoebiltong
En, in die swart moerkoffie, vars van die Aga-stoof

Ek voel my Afrika

In die ritmiese beweging van my perd
In die terugslag van my roer
In die magtige dreuning van die wolke
En, veral in die fyn bladsye van my Bybel

Afrika is mý woning
En my “Vryheid alleen is in ons Koning”

Deur Joshua Hein


Die organiseerder van hierdie geleentheid, Janice Mc Bride, ’n onderwyser by Waterberg Academy, het gesê dat die standaard vanjaar besonder hoog was en die paneel beoordelaars het behoorlik kop gekrap om ’n wenner aan te wys. Dit is die eerste keer wat ’n Afrikaanse gedig wen.

Die vorige wenner, Lucy Calcott, kon nie die aand bywoon nie weens studieverpligtinge.

Hein se vreugde was tasbaar toe hy met die welverdiende titel “Poet’s Poet of the evening” kon wegstap.

Related Articles

Back to top button