CrimeNews

Hele dorp staan saam om booswigte te soek

Die Pos het in ’n stadium ongeveer 70 voertuie getel van mense wat bystand verleen het.

’n Reuselug- en landsoektog is op Maandag 17 Junie van stapel gestuur nadat ’n vakansieoord buite Mookgophong die slagoffer van booswigte geword het wat met kontant, skootrekenaars en selfone gevlug het.

Volgens Kobus van Loggerenberg, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Mookgophong, het een van die besoekers by die Diamant Lodge, op die pad na die warmbronne, ongeveer 05:00 wakker geword en die booswigte gewaar. Hy het waarskuwingskote op hulle gevuur, waarna hulle laat spaander het. Die drie verdagtes het die bosse ingevlug en koers gekies oor die teerpad na die bosse tussen Negende Straat en die Constantia-pad.

Twee verdagtes is vasgetrek nadat verskeie items die afgelope naweek by Diamant Lodge in Mookgophong gesteel is.

 

Daar is onmiddellik alarm gemaak op veiligheidsgroepe en gevra dat inwoners op die uitkyk vir die mans moet wees. Volgens Van Loggerenberg het ’n inwoner die verdagtes in ’n stuk veld in Sewende Laan opgemerk waar hulle klere geruil het. Hulle het toe weer op die vlug geslaan.

Johan van Wyk en Van Loggerenberg het die mans teen ongeveer 08:42 nie ver daarvandaan, langs die Ancor-meenthuise, in ’n oop veld oorkant Negende Straat gewaar.

Hulle het hulp ontbied sodat die gebied afgesper kon word. Talle inwoners het dadelik gereageer en binne ’n paar minute was die hele gebied beman. Die Heritage Protection Group (HPG) se spoorsnyers en lede van die Naboom-veiligheidsgroep, asook inwoners, het die gebied begin fynkam en een verdagte is aangekeer. Van die gesteelde goedere is volgens Van Loggerenberg by hom gevind. Daar is beslag gelê op klere, handskoene en gereedskap.

Teen 09:30 het ’n helikopter van Powered Flight in Pretoria nóg ’n verdagte gewaar, wat ook aangekeer is. Die derde verdagte was teen druktyd nog op vrye voet. Die twee wat in hegtenis geneem is, word in die polisieselle in Mookgophong aangehou en sal vandeesweek in die hof verskyn.

Die soektog het tot ongeveer 13:30 geduur en is toe afgelas. Die verdagtes is blykbaar nie van Mookgophong nie. Die polisie ondersoek die moontlikheid dat die mans ook verbind kan word met ’n inbraak by die Constantia-vakansieoord en ’n poging tot inbraak by Die Oog Aftreelandgoed.

“Die samewerking van die gemeenskap is prysenswaardig,” het talle betrokkenes ná die voorval gesê.

Die Pos het in ’n stadium ongeveer 70 voertuie getel van mense wat bystand verleen het.

Related Articles

Back to top button