MunicipalNews

Wet van Transvaal vir advertensieborde

Mense wat advertensieborde op munisipale gronde oprig, moet opdok daarvoor, het die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit sakelui gewaarsku.

Borde wat onwettig opgerig is, sal verwyder word.

Volgens Marlene van Staden, burgemeester, is die munisipaliteit besig met ’n oudit van al die advertensieborde op munisipale grond. Ondernemings sal binnekort briewe daaroor ontvang, het sy gesê.

Die oprigting van advertensie- of aanwysingsborde moet aan munisipale regulasies, asook aan dié van die nasionale padagentskap (Sanral) voldoen om te verseker dat dit nie motorryers se sig belemmer nie.

Die fooie wat vir advertensieborde gehef word, is deel van die munisipaliteit se tariewe wat jaarliks voor 31 Mei deur die raad goedgekeur word en vanaf 1 Julie, wanneer die nuwe boekjaar begin, gehef word.

Die tarief vir ’n enkel oorhoofse advertensiebord beloop jaarliks R19 098. Citilite-advertensies (ligkastipe soos dié wat banke dikwels het) beloop R11 600 per jaar, gewone ligkas-advertensies kos R8 480 per jaar terwyl paaladvertensies R848 per kwartaal, gebeurtenis-advertensie R2 120 per 50 advertensies en promosie-advertensie R318 per dag kos.

Die munisipaliteit het in 2016 tientalle onwettige advertensieborde van sypaadjies verwyder.

“Ons onderhandel ook met ondernemings en sal byvoorbeeld pleks van advertensiefooie, vra dat hulle die terrein om die bord instand hou,” het Van Staden gesê.

“Ons wil graag ons dorpe mooi en netjies hou, maar wil ook seker maak dat sakeondernemings die nodige blootstelling kry,” het sy gesê.

Diegene wat wil adverteer of hul advertensieborde wil betaal, kan vir Patrick Shika by die munisipaliteit bel by tel. 083 287 3336 of tel. (014) 718 2051.

Related Articles

Back to top button