Sport

Dorp ly groot skade toe toernooi Gauteng toe skuif

Inwoners van Bela-Bela, en veral ouers van jong rugbyspelers van Gauteng, was die afgelope week woedend en verslae nadat ’n reuserugbytoernooi wat in die dorp sou plaasvind, enkele dae voor die begin van die toernooi gekanselleer is.

Verskeie gastehuise en lodges in die Bela-Bela-omgewing het oproepe ontvang van gaste wat hul verblyf moes kanselleer nadat die Future Blue Bulls-toernooi gekanselleer is.

Die toernooi sou van 19-22 Junie by Hoërskool Warmbad en by die Zwartkloof Natuurreservaat buite die dorp plaasgevind het. Die verwagting is geskep dat sowat 1 200 spelers, saam met hul ouers en afrigters, die toernooi sou bywoon.

In ’n skrywe op ’n briefhoof van die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU), wat ook in Die Pos se besit is, word spelers van o.11 tot o.18 genooi om aan dié toernooi deel te neem. Daar word onder meer geskryf dat talle bekende rugbyspelers, voormalige spelers, afrigters en keurders die toernooi sal bywoon. Nasionale televisiedekking is ook beloof.

Die skrywe is vroeg in Maart vanjaar uitgestuur.

Volgens die BBRU sou die toernooi dien as bykomende platform waar opkomende jong spelers hul staal kon wys. Daar is voorts die verwagting geskep dat talentvolle spelers tydens dié toernooi deur provinsiale en nasionale keurders raakgesien kan word. Afrigters en spelers kon ook die geleentheid gebruik om aan die verskillende klubs, strukture en instansies van die BBRU blootgestel te word.

Werner du Preez, organiseerder van die toernooi, het vandeesweek by navraag aan Die Pos gesê: “Daar was ’n finale afsnytyd op Vrydag 14 Junie vir spanne om hul inskrywingsfooie te betaal, maar minder as 5% van die spanne het dit gedoen. Ons het geen ander keuse gehad as om die toernooi uit te stel nie.” Hy het voorts gesê: “Daar was nie genoeg geld vir die toernooi om voort te gaan nie. Sekere jeugrugbyklubs van Pretoria het ons toe genader en ’n besluit is geneem om die toernooi na Loftus Versfeld in Pretoria te skuif.”

Diensverskaffers in die gasvryheidsbedryf in die Bela-Bela-omgewing sluk egter swaar aan dié verskoning. Talle mense in die gasvryheidsbedryf het Die Pos laat weet dat hul besprekings nou op die nippertjie gekanselleer is. Dit is skoolvakansie en van dié plekke het ander mense weggewys om Future Blue Bulls-spelers en hul ouers te huisves.

Hoërskool Warmbad en Zwartkloof Natuurreservaat het albei aan Die Pos gesê dat hulle reusekoste aangegaan het ter voorbereiding van die toernooi.

Die skool wou die geleentheid aangryp om ’n bykomende inkomste te verkry om die bedryfslas van die skool te verlig. Die Pos verneem dat die skool onder meer duisende rande aan nuwe linne vir die skoolkoshuis bestee het en dat daar reeds koste aangegaan is vir ouers wat kosstalletjies tydens die toernooi sou beman.

“Ons het nog geen amptelike kennisgewing van die BBRU oor die skielike kansellasie ontvang nie. Al wat gebeur het, is dat ons sportkoördineerder gekontak en meegedeel is dat die toernooi nie meer plaasvind nie,” het Paul Liddle, skoolhoof van Hoërskool Warmbad, gesê. “Ons het baie geld verloor weens die voorbereidings wat ons getref het.”

Willie Bosman, bestuurder van Zwartkloof Natuurreservaat, het ook gesê dat hulle geen amptelike kennisgewing van die kansellasie ontvang het nie.

“Ons het baie besigheid verloor. Dit is teleurstellend en die organiseerders se beplanning was glad nie goed nie. Ons het maar die hou gevat, maar is onseker of die toernooi in die toekoms hier gehou sal word,” het hy gesê.

Du Preez het egter gesê die BBRU sal baie graag steeds die toernooi in die toekoms in Bela-Bela wil aanbied. Hy meen egter daar sal voortaan nie-terugbetaalbare deposito’s van die spelers en borge gevra moet word. Sperdatums sal ook nougeset gevolg moet word sodat alle reëlings betyds getref kan word.

’n Gautenger wat betrokke is by klubrugby, en verkies om anoniem te bly, het in reaksie aan Die Pos gesê verskeie sakeondernemings en spanne wat belang- gestel het in die toernooi meen “die mense in beheer van die toernooi het nie oop kaarte met die betrokkenes gespeel nie.”

“Die gevoel is dat beter beplannig sou verseker dat die toernooi in Bela-Bela kon plaasvind. Die feit dat die toernooi nou in slegs drie dae op Loftus gespeel word, met die spanne wat wel in Bela-Bela sou kom speel het, laat ’n bitter smaak in die mond.”

  • Willem Strauss, president van BBRU, het gesê die Future Blue Bulls-toernooi word nie as ’n Blou Bulle-toernooi aangebied nie, maar as ’n “projek” wat deur die unie goedgekeur is. Volgens hom het “finansiële implikasies en min belangstelling” daartoe gelei dat die toernooi na Loftus verskuif is.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button