MunicipalNews

Neem hulle af en bring die bewyse, vra Bela-Bela-munisipaliteit

Die onwettige storting van vullis het hande uitgeruk in Bela-Bela en omgewing. Die Pos het verskeie oproepe en klagtes ontvang van inwoners wat vullis op ongemagtigde persele stort. Dit is veral in die dorp se woongebied waar vullis in parke, kerkpersele of oop veld gestort word. Die ingang na die vervalle Royal Northlands-gholfbaan in Bothastraat, …

Die onwettige storting van vullis het hande uitgeruk in Bela-Bela en omgewing.

Die Pos het verskeie oproepe en klagtes ontvang van inwoners wat vullis op ongemagtigde persele stort. Dit is veral in die dorp se woongebied waar vullis in parke, kerkpersele of oop veld gestort word.

Die ingang na die vervalle Royal Northlands-gholfbaan in Bothastraat, asook die veld voor die ingang na die munisipale vullisterrein in die dorp se nywerheidsgebied, word dikwels die stortingsplek van mense wat nie huiwer om sommer ’n bakkievrag of kattebak vol vullis daar te stort nie.

Inwoners voel egter dat die vullisterrein onveilig is vir bejaardes en vroue en daar bestaan ’n groot behoefte vir ’n diensverskaffer om te help om dié diens te verbeter.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê mense kan ’n boete van tot R1 500 opgelê word indien hulle betrap word met vullis wat onwettig gestort word.

“Dit sal ons baie help indien mense ons van bewyse kan voorsien, soos om ’n foto te neem waar iemand vullis wederregtelik weggooi. Die ooggetuie moet dan die munisipaliteit kontak, waarna ons dit verder sal neem,” het hy gesê.

Hy het nie uitgebrei oor hoe die munisipaliteit dié verordening gaan deurvoer nie.

Die dorp is tans nie by enige herwinningsprojekte betrokke nie en van die inwoners is van mening dat dit ’n roete is wat gevolg moet word. Dit kan werkskepping en ekonomiese voordeel inhou mits die projekte reg bestuur word. Alternatiewe maniere soos om vullishouers vir herwinning op strategiese plekke in die dorp te plaas, was al onder bespreking, maar die munisipaliteit het nog nie die nodige houers bekom nie.

Heino van Graan, ’n ywerige leerder van Hoërskool Warmbad, het ’n ruk gelede ’n herwinningsprogram by die skool begin om fondse vir minderbevoorregtes in te samel.

“Mense kan vooraf gesorteerde vullis na ons bring. Ons neem egter nie tuinvullis in nie,” het hy gesê.

Mense kan intussen die munisipaliteit skakel by tel. (014) 736 8000 wanneer hulle iemand sien wat vullis onwettig weggooi.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button