MunicipalNews

Voertuie “vlieg” straat-af in Bela-Bela

Ten minste drie bestuurders, wat binne die spoedgrens gery het, het oor die spoedhobbel in Mentzlaan “gevlieg” sonder dat hulle die hobbel raakgesien het.

Die Bela-Bela-munisipaliteit het inwoners die josie in oor nuwe teerspoedhobbels in die dorp wat motorryers dwing om hul spoed te verminder, maar nie gemerk is nie en daarom ’n paar voertuie behoorlik laat “vlieg” het.

Daar is onder meer hobbels in Mentz- en Apiesdoringlaan aangebring. Inwoners wat Die Pos gekontak het, meen die hobbels kan groot skade aan voertuie aanrig.

Tydens Die Pos se besoek op Vrydag 14 Junie was die hobbels nie geverf nie, daar was geen padtekens om motorryers te waarsku nie en ook geen munisipale werker in sig nie.

Hoewel dit helder oordag was ten tyde van die besoek, het ten minste drie bestuurders, wat binne die spoedgrens gery het, oor die spoedhobbel in Mentzlaan “gevlieg” sonder dat hulle die hobbel raakgesien het. Die strate het groot bome weerskante wat lang skaduwees oor die pad gooi en die hobbels verskans. Talle van die strate in Bela-Bela is boonop saans stikdonker omdat baie van die dorp se straatligte buite werking is. Inwoners het aan Die Pos gesê hulle sal die munisipaliteit daarvoor aanspreeklik hou indien hul voertuie skade ly.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê die spoedhobbels is ’n noodsaaklike maatreël om padveiligheid te verbeter.

“Die hobbels is só gelaat om droog te word voordat dit geverf kan word. Daar is besluit om voorlopig geen padtekens aan te bring nie. Die hobbels sal wel eersdaags geverf word vir beter sigbaarheid,” het hy gesê.

Teen druktyd was die spoedhobbels steeds nie geverf nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button