BlogsOpinion

Hoofartikel: Ekosisteem in die kleine

Om ’n onderneming in ’n dorp te bestuur, het ’n mens soms hare op jou tande nodig.

Sakeondernemings word dikwels in sakekringe vergelyk met ’n ekosisteem.

In ’n ekosisteem is lewende dinge nie net met mekaar verbind nie, maar ook afhanklik van nie-lewende dinge in hul omgewing om voort te bestaan.

 

’n Sakeonderneming se sukses is op dieselfde wyse as lewende organismes afhanklik van ’n ingewikkelde verbindingsnetwerk.

Dit is juis waarom Die Pos vandeesweek ’n Sakesteun-fokusblad publiseer. Dié blad het aan sakeondernemings wat dienste verskaf aan ander sakelui en instansies, die geleentheid gebied om hul diens of produkte te adverteer.

Want wanneer ’n nuwe onderneming op die been gebring word, is die eerste deur waaraan gewoonlik geklop word, dié van ander rolspelers in die sakewêreld: banke, prokureurs, boekhouers, drukkers, die koerant, personeelagentskappe, ensovoorts. Eers as die fondasie behoorlik gelê is, kan daar op kliëntediens gefokus word.

Dit is veral in die platteland waar hierdie netwerk van ondersteuning van groot belang is. Om ’n onderneming in ’n dorp te bestuur, het ’n mens soms hare op jou tande nodig. En dit is soms die ondersteuning en aanmoediging van ander sakelui wat vuisvose sakelui weer met nuwe ywer vul.

Dit is waarom die rol van sakekamers in die platteland nooit onderskat moet word nie. Op Modimolle en Mookgophong staan die sakekamers sterk, maar op Bela-Bela het dié instansie reeds meer as ’n jaar gelede doodgeloop. Dit is daarom ’n riem onder die hart dat ’n paar sakemense onlangs op dié dorp koppe bymekaar gesit het om te kyk hoe daar weer ’n sakekamer op die been gebring kan word.

Maar net soos ’n ekosisteem blootgestel is aan faktore wat soms die netwerk van só ’n sisteem bedreig, is ’n plattelandse gemeenskap ook van tyd tot tyd uitgelewer aan teleurstellings en terugslae wat groot skade aan die finansiële hart van ’n dorp se sakesisteem kan veroorsaak.

Die afstel van die Future Blue Bulls-rugbytoernooi in Bela-Bela, vier dae voordat dié geleentheid sou afskop, het dié dorp in sakeskok gedompel. Die dorp het gereedgemaak om die rooi tapyt vir die duisende besoekers wat glo sou opdaag, uit te rol.

Die toernooi sou plaasvind op die velde van Hoërskool Warmbad en Zwartkloof Natuurreservaat se avontuurkamp. Albei instansies het groot finansiële skade gely nadat hulle reeds duisende rande bestee het ter voorbereiding van die toernooi. Vakansiebestemmings en gastehuise is onder meer gedwing om kansellasiefooie aan bespreekte toernooigaste terug te betaal. Instansies en individue wat kosstalletjies tydens die geleentheid sou bedryf, moet nou verlief neem met die verlies.

Dit is egter nou water onder deur die brug. ’n Ekosisteem het wel die vermoë om vining te herstel en met die nodige sakesteun van die gemeenskap sal die skool, sakelui en individue wat skade gely het, weer kop optel. Want dit is hoe sakelui in die platteland funksioneer.

Related Articles

Back to top button