Local sportSport

Ruiters wys hul slag tydens kwalifiserende ronde

Perderuiters van verskeie klubs in Limpopo het op Saterdag en Sondag 8-9 Junie aan twee kwalifiserende rondes van die South African Western Mounted Games Association (SAWMGA) en die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruiterskolevereniging (Sanesa) by Berbon-stalle buite Bela-Bela deelgeneem.

Ses kwalifiserende rondes word vanjaar in Limpopo aangebied. Nadat perdesiekte vroeër landwyd uitgebreek het, was die organiseerders genoodsaak om twee rondes in een naweek in Bela-Bela te hou.

Ruiters moet aan ’n minimum van drie kwalifiserende rondes deelneem om oorweeg te word vir die nasionale kompetisie wat gedurende die September-skoolvakansie in Parys in die Vrystaat plaasvind.

Paige Cronjé van Laerskool Warmbad en haar perd, Lang Carel-Treurnicht, word fyn deur die beoordelaars dopgehou tydens die onlangse kwalifiserende ronde wat buite Bela-Bela gehou is.

 

Leerders van Laerskole Warmbad, Dr. Annecke, Pietersburg-Suid, Mariepskop en Hoërskole Warmbad, Nylstroom, Merensky, Ben Viljoen en Pietersburg het deelgeneem. Daar was ook leerders van Metsweding School, Wolkberg Akademie, die Euphorbia Christelike Skool, Curro Heuwelkruin en tuisonderrigleerders.

Die klubs wat teenwoordig was, sluit in Silver Saddles (Waterberg-streek), Capricorn en Diamonds in Dust (Capricorn-streek), Buckles & Boots (Mopani-streek) en Thundering Hooves (Mopani-streek).

Ruiters moes met hul perde verskeie uitdagings aanpak en hindernisse op ’n uitgemerkte baan voltooi. Deelnemers se tye word tydens elke kompetisie geneem en elke ruiter poog om sy of haar item so vinnig en foutloos moontlik te voltooi. Die perd en ruiter met die vinnigste tyd is dan die itemwenner.

Die twee dae het baie goed afgeloop, ondanks die vroegoggend koue. Ses provinsiale rekords is verbeter. Daar was altesame 45 ruiters.

Daar het ook verskeie ruiters na ’n volgende ruitersvlak gevorder wat ’n groot prestasie is.

Die volgende kompetisie vind op Sater-dag 6 Julie in Polokwane plaas.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button