Local newsNews

Vadersdag: Wanneer Pa ‘te veel om die lyf’ kry

Wat gemaak as jy smag na ’n lekker stuk vetvleis of ’n koue bier?

Die legendariese boepmaag is iets wat al hoe meer mans — selfs die jonger manne — tref.

Die Pos het by ’n fiksheidsinstrukteur gaan raad vra oor dié netelige kwessie.

“’n Boepmaag ontwikkel nie oornag nie en daarom gaan dit ook nie oornag verdwyn nie. Dit gaan opoffering verg om dit weg te kry,” meen Tiaan Botes, gimnasiumbestuurder van Bela-Bela.

“Nie almal sien kans of het tyd om te oefen nie. Tog is daar altyd tyd vir lekker kos en ’n drankie,” sê Botes.

Volgens Tiaan Botes, gimnasiumbestuurder van Bela-Bela, is dit dit belangrik dat mans na hul gesondheid (en gewig) omsien.

 

Slegte eetgewoontes is volgens hom die algemeenste rede dat die manne se lywe “so ’n bietjie uitsit”.

Mense is ook geneig om ontbyt oor te slaan en dan later in die dag groot borde kos te verorber. “Ontbyt is die belangrikste ete van die dag. Indien ’n mens ontbyt oorslaan, kan dit lei tot wisselvallige cholesterol- en suikervlakke.” Botes beveel aan dat mans wat ’n gejaagde lewe lei, soggens “vinnige geregte” soos hawermout, Pronutro, Wheat Bix of Future Life eet.

“Dit is nooit maklik om gewig te verloor nie. Mense moenie dink hulle kan reg oefen en verkeerd eet, of andersom nie. Daar is uitstekende aanvullers op die mark, maar dit moet nooit ’n maaltyd vervang nie.”

Hy stel ook voor dat snoephappies deur groente en vrugte vervang word.

Wat gemaak as jy smag na ’n lekker stuk vetvleis of ’n koue bier? “Hou matigheid voor oë,” is sy raad.

“Die meeste mans wil net goed lyk en ’n mens kan dít regkry deur te stap, trappe te klim of opstote (push ups) en opsitte (sit ups) te doen. Dit is belangrik om al die spiere in die liggaam te oefen vir gewone gewigsverlies. Wanneer dit by liggaamsbou kom, word die klem verskuif en dan word daar op spesifieke spiergroepe soos been-, bolyf-, laerug- of armspiere gefokus.”

Volgens Botes bestaan daar geen kortpad vir gewigsverlies nie. Mense wat té veel té gou wil verloor, kan maklik beserings opdoen.

“Die eerste paar oefeninge is die moeilikste, want ’n mens behaal nie dadelik resultate nie. Ná ’n paar weke se gereelde oefening kan ’n mens egter die verskil begin sien en voel en dán wil die meeste mense gewoonlik aanhou oefen.”

Botes se voorstel is dat mense begin deur vir 10 minute per dag flink te stap. Mettertyd kan die afstand en tyd vergroot word en sal die vetjies begin wegsmelt en die stapper se algemene gesondheid begin verbeter.

“Mense bo 40 jaar sukkel veral met hul knieë, gewrigte en rûe en daarom is harde oefening nie altyd ’n opsie nie. Swem bied egter dieselfde voordele, maar het ’n laer impak op die skelet,” het hy gesê.

Mense wat ’n bietjie aanmoediging nodig het, kan ’n vriend of selfs hul gesinne inspan om saam te oefen. Dit kan in ’n lekker gesinsaktiwiteit ontaard, het Botes gesê.

“Stel doelwitte vir jouself en plak dit iewers op waar jy elke dag daaraan herinner kan word,” is sy raad.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button