Local sportSport

Jongeling se skopvoet besorg hom ’n rekord

Coetser is aangewys as die beste tegniese skopper in sy ouderdomskategorie.

’n Jong rugbyspeler van Modimolle, Rudolf Coetser, is as die eerste o.19-skopkoning gekroon nadat hy ’n rugbybal op 60 m dodelik akkuraat deur die pale geskop het.

Hy het die Suid-Afrikaanse jeugrekord vir akkurate afstand stelskop vir o.19’s vir homself toegeëien na dié indrukwekkende skop.

 

Coetser, wat die Nylstroom-rugbyklub se linkervleuel is en hul skopwerk doen, moes eers ’n 55 m kwalifiserende skop tussen die pale deursit voordat hy sy kanonvoet op 60 m kon toets.

Die eerste Skopkoningbyeenkoms is op Saterdag 1 Junie by die Harlequin-sportgronde in Pretoria gehou met net minder as 100 deelnemers tussen die ouderdomme van 8 en 20 jaar in die ses verskillende ouderdomskategorieë.

Coetser is ook aangewys as die beste tegniese skopper in dieselfde ouderdomskategorie. In dié kategorie moes die deelnemers ’n aantal stelskoppe vanaf vasgestelde posisies met verskillende hoeke en afstande na die pale toe skop.

Volgens Coetser is die uitdaging ’n goeie geleentheid om te leer.

“Van die kenners daar het net ’n paar veranderinge aan my tegniek gemaak en ek kon my skoppe verbeter. Ek dink dit is ’n ideale geleentheid vir spelers,” het hy gesê. “Dit was ’n baie lekker dag.”

Nóg sewe ander Suid-Afrikaanse jeugrekords is tydens die byeenkoms opgestel. Dit het gewissel van die o.9-rekord van 22 m en die o.12-rekord van 40 m tot by die o.17-rekord van 50,90 m.

Die volgende Skopkoninguitdaging vind op Saterdag 31 Augustus in Mokopane plaas waar die jong rekordhouers se afstande uitgedaag kan word.

Coetser het gesê dat hy beslis daar sal wees om sy titel te verdedig.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button