Local newsNews

Planne op dreef om weer ’n sakekamer vir die Sonskyndorp te kry

Planne word beraam om die Bela-Bela-sakekamer te laat herleef nadat dié forum al jare lank nie meer aktief is nie.

’n Byeenkoms is vir aanstaande week by die Bela-Bela Waterfront gereël waartydens sakelui vanuit verskeie sektore van die gemeenskap sal bepaal wat die behoefte van die dorp is en hoe die privaat sektor én plaaslike regering die dorp kan dien.

“Die voordeel van ’n aktiewe sakekamer word op baie dorpe in ons land bewys,” het Drummond Hammond, sakeman in die brandstofbedryf, aan Die Pos gesê.

“Ons almal het geleer dat politiek en kleinlikheid nie in ’n sakekamer hoort nie en dat gelyke verteenwoordiging van groot en klein ondernemings ewe belangrik is,” het hy gesê.

Volgens Hammond is dit belangrik dat sakelui en sakeondernemings vanuit die dorp én die township deel moet word van die sakekamer.

Vergaderings met die munisipaliteit het volgens hom reeds plaasgevind en hulle het die behoefte aan ’n sakekamer uitgespreek. Die oogmerk sal wees om beleggers van buite die dorp te lok en só ’n broodnodige finansiële inspuiting te bekom, het hy gesê.

Daar is tans ’n voorstel dat elke onderneming slegs een stem behoort te hê vir die persoon wat hulle op die bestuur wil hê, het Hammond gesê.

Sakelui word vriendelik genooi om die byeenkoms by te woon.

Die vergadering vind op Woensdag 12 Junie om 18:00 by die Gold Rush Casino by die Waterfront in Bela-Bela plaas.

Related Articles

Back to top button