Local newsNews

Gemeenskap groet sakeman met gróót hart

Dit was met groot hartseer dat familie, vriende en inwoners van Mookgophong een van hul geliefde inwoners, familieman, kerkman en jarelange sakeman op Vrydag 24 Mei gegroet het.

’n Roudiens is reeds om 11:00 vanuit die Nederduits Hervormde Kerk in die dorp vir Anton Venter (60) gehou.

Venter het op Maandag 20 Mei sy kort stryd teen kolonkanker verloor. Volgens Maryna, sy vrou, is hy op 7 Januarie 2019 met kanker gediagnoseer wat toe reeds ver gevorderd was. Hy was ’n baie aktiewe man en het elke oggend ’n paar blokke ver gestap om stiptelik kwart voor sewe sy motorhawe op die dorp oop te sluit. Inwoners sal onthou hoe vriendelik hy almal gegroet het op sy staptogte.

“Anton was fiks en gesond en dit was ’n groot skok toe ons van sy siekte gehoor het. Ons was nog in September 2018 in Noorweë om die noorderlig te gaan sien, toe hy siek begin voel het. Hy was ’n ongelooflike goeie man en gek oor sy kinders en kleinkinders,” het Maryna vertel.

Hulle was reeds van skool af saam en was 38 jaar getroud.

In ’n huldeblyk het Gerda Swanepoel, namens Hoërskool Hans Strijdom, teruggedink aan Venter se onbaatsugtige bydrae tot die skool. Sy het gesê hy sal altyd onthou word vir sy oop hand en warm hart vir veral kinders in nood. Hy het dit finansieel moontlik gemaak dat talle kinders oor die jare heen ’n nuwe paar skoolskoene, skooluitrusting en selfs matriekafskeiduitrustings kon kry.

Kinders wat presteer het maar nie geld gehad het vir die Top 10-uitstappie nie, is deur hom en sy vrou, Maryna, geborg. Sommiges behoeftige gesinne se skoolgeld is betaal. Die Venters het jaarliks ’n ruim skenking aan die skool gemaak om behoeftige kinders van noodsaaklike toiletware te voorsien.

Hy het, waar hy bewus was van nood, gehelp sonder om besonderhede te vra. Venter het ook ruimskoots bygedra tot Hansieweke, Bokkieweke en hulp om die infrastruktuur van die skool en sportvelde in ’n goeie toestand te hou.

“Die lief en leed van Hansieland het Anton na aan die hart gelê en sy insette as ouer, beheerliggaamslid en beheerliggaamsvoorsitter en sakeman het ’n groot verskil gemaak. Binne die bestek van een enkele gebeurtenis is niks meer soos dit was nie. Tog kan die dood, die fisieke verdwyning van Anton Venter, nie die geestesbesit wat ons almal van hom ontvang het, vernietig nie. Ons medelye aan Maryna, kinders en kleinkinders vir julle onmeetbare verlies. Ons groet en salueer ’n groot vriend van Hoërskool Hans Strijdom wat altyd ’n plek in ons herinneringe en harte sal hê,” het Swanepoel gesê.

“Baie dankie vir almal se ongelooflike ondersteuning in ons moeilike tyd. Ons waardeer dit opreg,” het Maryna gesê.

Related Articles

Back to top button