Local newsNews

Dié oudjuffrou wil niks weet van stilsit

Die Eenheid Kleuterakademie in Modimolle se deure sluit ná 20 jaar en nou wink aftrede — maar nie stilsit nie — vir die skool se eienaar, Yvonne Pretorius (72).

Pretorius woon sedert 1974 in die dorp. Voordat sy die kleuterskool en naskoolsentrum begin het, het sy by Laerskool Nylstroom, Laerskool Eenheid en Hoërskool Nylstroom skoolgehou.

Haar skool se deure was altyd oop vir ouers wat kon betaal en ook vir dié wat slegs gedeeltelik of glad nie kon betaal nie. Die reuk van lekker kookkos vir middagete het besoekers daagliks verwelkom.

Die Pos het haar, waar sy besig is om twee dekades se harde werk op te pak, besoek. Dit is nie ’n maklike afskeid nie, sê sy.

Watter liefdadigheidsinstansie lê jou na aan die hart?

Klub Helpmekaar en die Alma Skool vir Gestremdes. Alma Skool doen baie goeie werk vir gestremdes.

Watter sosiale medianetwerk gebruik jy die meeste?

Ek Facebook so ’n bietjie, maar baie selektief .

As jy R1 miljoen kry om in jou gemeenskap te bestee, wat sou jy eerste doen?

Ek sou sorg dat almal wat nie kos het nie, drie etes per dag het, al moet ek dit self kook. Daar is so baie mense in ons dorp wat met leë mae loop.

Wat dink jy is die toekoms van klein Suid-Afrikaanse dorpies soos Bela-Bela, Modimolle, Vaalwater en Mookgophong?

As ons saamstaan en die veranderinge aanvaar, sal ons kan aangaan. Ons moet net wegbly van negatiwiteit.

Watter aanhaling inspireer jou?

Ek probeer om die Landsdiens se leuse “Dade, nie woorde” uit te leef. Ek is lief vir my Skepper, my medemens en die natuur. (Pretorius was jare lank die “Landsdiens-tannie” op die dorp.)

Watter persoon het jou pad gekruis wat jou oortuig het dit is nodig om brûe te bou?

Toe ons net op die destydse Nylstroom aangekom het, was Rudie Smit die hoof by Laerskool Nylstroom. Sy houding was een van: hier is werk om te doen. Die skool se grassnyer het eenkeer voor ’n atletiekbyeenkoms gebreek. Al die personeellede het hul eie grassnyers skool toe gebring en so saam-saam het ons die bosse in ’n atletiekveld ingetem.

George Jones, wat hoof was by Laerskool Eenheid, het my baie geleer. Ek was onseker hoe om tale aan te bied en hy het my agter in sy klas laat sit om saam met die kinders te leer. Hendrik Erasmus, ook skoolhoof daar, het net so ’n groot indruk op my gemaak.

Wat wag nou ná aftrede?

Ek sal graag betrokke wil bly by liefdadigheidswerk, maar niksdoen sal nie vir my deug nie. Dalk kan ek help om na ouer mense om te sien.

Watter probleem in jou gemeenskap dink jy moet eerste aandag geniet?

Sjoe, mense is vreeslik negatief en pak al die blaam op die munisipaliteit. In die sewentigs het ons geweet as dit reën, is Donkerpoortdam se water rooi en dan het jy maar nie die baba se wit lapdoeke daarin gewas nie. As die wind in die destydse Warmbad gewaai het, het jy geweet ons gaan vir lank sonder krag in Nylstroom sit. Ons het dit so aanvaar en planne gemaak om daarsonder reg te kom.

Wat is jou droom vir jou gemeenskap?
Dat ons almal in vrede en liefde met mekaar kan saamleef. Hier is soveel goeie mense met oop harte in hierdie dorp.

Related Articles

Back to top button