Local newsNews

Vullisterrein voldoen glo nie aan standaarde

Slegs vier uit die 12 provinsiale vullisterreine wat die afgelope maande deur AfriForum geoudit is, voldoen volgens hulle aan die nasionale standaarde.

AfriForum het vanjaar 127 vullisterreine in al nege provinsies geoudit as deel van hul nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in die land te meet.

Luidens ’n verklaring deur AfriForum is hul oudit gegrond op 33 vrae wat onder meer gefokus het op toegangsbeheer, brande, mediese afval, omheining en rehabilitasie by die terreine. AfriForum meen dat ’n vullisterrein minstens 80% moet behaal om aan die bepaalde wetgewing te voldoen.

Die terreine wat bo 80% behaal het, was luidens die verklaring Groblersdal (98%), Marble Hall (84%), Makhado (84%) en Tzaneen (100%).

Die swakste was Lephalale (16%), Hoedspruit (20%), Mookgophong (onderskeidelik 34% en 20%), Modimolle (0%), Phalaborwa (36%), Leeupoort (4%) en Bela-Bela (40%).

David Rule, AfriForum se assistentkoördineerder in Soutpansberg, het gesê die meeste stortingsterreine in Limpopo is in ’n haglike toestand.

“Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die algehele verval van munisipaliteite in die provinsie.

“Wanbesteding en wanadministrasie is groot knelpunte in die provinsie.

“Geld word ondoeltreffend aangewend en die nodige masjiene vir instandhouding is foutief.”

Hy het voorts gesê die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en mediese afval wat onwettig op terreine gestort word, is van die grootste probleme.

AfriForum beoog om dié verslag aan die Groen Skerpioene te oorhandig vir verdere ondersoek en optrede teen skuldige munisipaliteite.

Verder het hulle hul onderskeie takke aangemoedig om druk op munisipaliteite te plaas om die toestand by die terreine te verbeter.

  • Die Bela-Bela-munisipaliteit het intussen in hul finale geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) aangedui dat hulle R8 miljoen begroot het om dié dorp se munisipale vullisterrein in die dorp se nywerheidsgebied op te gradeer.

Related Articles

Back to top button