BlogsOpinion

Hoofartikel: Limpopo, kom in asseblief, Limpopo!

Inwoners van Limpopo wil graag nóg een versoek op dié lys aan die president rig: Vertel tog asseblief vir “die mense daar bo” van Limpopo.

Pres. Cyril Ramaphonsa se inhuldiging as president verlede naweek lui ’n nuwe era vir Suid-Afrikaners in.

Hoewel daar steeds diegene is wat geen goeie woord vir die nuwe president te sê het nie (veral as hulle op sosiale media losgelaat word), is daar tog duisende wat om verskeie redes moed geskep het en hoopvol is.

President Cyril Ramaphosa.

 

Misdaad. Dienslewering. Werkskepping. Gelyke geleenthede. Ekonomiese vooruitgang. Stabiliteit. Dít alles wil Suid-Afrikaners dadelik aangespreek hê. Soms voel dit asof sommiges nog net moet byvoeg: “Loop op die water.”

Inwoners van Limpopo wil graag nóg een versoek op dié lys aan die president rig: Vertel tog asseblief vir “die mense daar bo” van Limpopo.

Mmusi Maimane, DA-leier, het nie verniet voorheen na Limpopo as “die vergete provinsie” verwys nie.

Ramaphosa is wel in Soweto gebore, maar hy kén Limpopo se paaie. Hy het in Sibasa, Venda (jip, dit is in Limpopo!) gematrikuleer en aan die destydse Universiteit van die Noorde (Turfloop) buite die destydse Pietersburg (nou Polokwane) gestudeer. Daar is reeds wyd in die media oor sy boerderybelange in Limpopo berig.

Verskeie inwoners van die Bela-Bela-omgewing het Ramaphosa oor die jare al iewers in en om die dorp raakgeloop en geselsies aangeknoop. Tog staan ons hier by Die Pos weekliks verstom oor regeringsbronne, invloedryke maatskappye en veral advertensieagentskappe se absolute onkunde oor Limpopo. Dit is vir ons so duidelik soos daglig dat “hogere” mense in veral Gauteng en die Wes-Kaap nie ’n kaart van Limpopo in hul gedagtes het wanneer hulle byvoorbeeld die media na swierige geleenthede uitnooi nie. Dit is almal mense in poste wat vereis dat ’n mens ingelig en belese moet wees.

“Thohoyandou is mos naby julle, want dit is mos in Limpopo, né?” hoor ons bykans maandeliks in Bela-Bela.

“Is julle naby Polokwane?”

“Kan julle die storie by die Kruger-wildtuin bywoon?”

“Watter dorpe val nou weer in die Waterberg?”

Ons is al moeg verduidelik. Eerlikwaar: Ons lag nie meer saam nie as mense in topposisies verskonend sê: “Oeg, ons word so deurmekaar met Modimolle, Mookgophong en Mokopane. Wat is nou weer die ou name?”

Dié name het meer as ’n dekade gelede al verander. Vat ’n kaart en kyk waar die dorpe lê. Kom kuier gerus in Limpopo. Wie weet, mis-kien loop jy nog die land se nuwe president by ’n boeredag, vulstasie of klein plaaswinkeltjie raak. Want, so terloops, dit gebeur!

Related Articles

Back to top button