CrimeNews

Smouse maai glo onder pragtige inheemse bome

Dié mense sny die bome af — selfs beskermde bome — sodat die hout langs die pad verkoop kan word.”

Inheemse bome word in hul duisende afgesaag sodat dit as vuurmaakhout verkoop kan word.

Met die winter se naderende koue styg die vraag na brandhout en ’n inwoner in die Modimolle-omgewing is bekommerd oor die invloed wat die onverantwoordelike afsaag van inheemse bome op die natuur het.

Roland Scott, een van die begunstigdes van ’n plaas in die Middelfontein-omgewing wat ná ’n grondeis terugbesorg is aan ’n aantal families, het aan Die Pos gesê mense met ’n hele vloot bakkies hou langs hul grond stil en betree die grond dan onwettig om vragte vol hout af te sny.

“Dié mense is Zimbabwiërs, asook plaaslike mense. Hulle sny die bome af — selfs beskermde bome — sodat die hout langs die pad verkoop kan word. Dit word selfs ver van hier af verkoop,” het hy beweer.

Nadat hy weer betreders op die grond betrap het, het hy vroeër vanjaar twee klagtes by die polisie aanhanging gemaak. Volgens hom het daar egter nog niks van gekom nie.

Luidens die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se webwerf is daar 47 beskermde soorte bome en enigeen wat dié bo-me sonder ’n permit afkap of die bome beskadig, kan ’n boete opgelê word of selfs tot drie jaar tronkstraf gevonnis word. Bome op die lys sluit in kameeldoring, vaalkameeldoring, peulmahonie, witgat, bastertambotie, hardekool, Bosveldsaffraan, Bosveldrooiklapperbos, stinkhout, maroela en geelhoutsoorte.

Een van die houtsmouse waarmee Die Pos gepraat het, het gesê sy hout word op ’n plaas anderkant Mookgophong gesny waar ’n boer ontbos het om lande te skep.

“Ons verkoop ’n groot deel van ons hout in die Polokwane-omgewing in dele waar daar nie elektrisiteit is nie. In Modimolle verkoop ons baie hout aan mense wat van die stad af hier deurry,” het hy gesê. Die prys van braaihout is aansienlik meer in die stede.

Volgens AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, moet houtsmouse binne munisipale grense permitte van die munisipaliteit af hê. Buite die dorpsgrense moet hulle in besit wees van ’n permit van Sanral, die nasionale padagentskap. Indien hulle nie ’n permit het nie, word hulle deur die polisie beboet.

“Ons kyk ook uit vir bedrog — baie van die hout word as sekelbos verkoop, maar is van beskermde bome afkomstig,” het hy gesê.

In baie gevalle is die smouse onwettige immigrante. In daardie geval word hulle in hegtenis geneem en hul hout gekonfiskeer.

“Ons raai die smouse wat hout sny op plase waar ontbos word aan om ’n brief van die boer te kry wat aandui dat hul hout van daar afkomstig is,” het hy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button