Local newsNews

Konsert bring geld in vir Claudia se behandeling

’n Vasberade ouerpaar van Modimolle samel geld in om hul gestremde dogtertjie Claudia, se lewensgehalte te verbeter.

Claudia is kort ná haar tweede verjaardag met diskinetiese serebrale gestremdheid gediagnoseer en kan nog nie self eet, sit, praat of kruip nie. Volgens haar ma, Jolene du Preez, ontvang Claudia geen voeding deur haar mond nie, maar deur ’n buis in haar maag. Omdat haar spiere nie reg funksioneer nie, verstik sy gereeld.

Jolene en haar man, Cornelius, het ’n konsert met die sanger Leon Ferreira gereël om vir Claudia se behandeling te help betaal. Die vertoning vind op Sondag 9 Junie om 18:00 by die Weesgerus-vakansieoord buite Modimolle plaas.

Kaartjies kos R50 en kan gekoop word by Hunky Dory-winkel of bel vir Cornelius by tel. 081 211 9527.

Die ouerpaar wil graag ’n hiperbariese tenk aanskaf omdat dié terapie die liggaam help om meer suurstof in die bloedstroom op te neem. Die suurstofryke rooibloedselle het tot gevolg dat die liggaam self kan begin genees. Die terapie moet elke tweede dag gedoen word vir so lank as moontlik.

Die koste van die tenk beloop R140 000 en hulle wil met die hulp van die konsert die uitstaande bedrag insamel.

Daarna beplan hulle om ’n spesiale stootwaentjie aan te skaf wat ongeveer R65 000 kos en ’n kommunikasiestelsel wat R85 000 beloop.

“Ons het werklik die ondersteuning van die gemeenskap nodig sodat ons Claudia kan help om ’n optimale lewe te leef,” het Jolene gesê.

Claudia se vordering kan ook op Facebook gevolg word op die blad “Claudia se pad na genesing”.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button