Local newsNews

‘Politici het nie hul beloftes nagekom,’ sê DA-man

“Ons moet leer uit ons foute van die afgelope vyf jaar, daaraan werk en mense aanhou oortuig dat die DA betroubaar is.”

“Vanjaar se wegblystem het ontstaan omdat politici nie hul beloftes nagekom het nie. Kiesers van alle rasse voel dieselfde hieroor.”

Só het Tinus Ras, DA-raadslid in Bela-Bela, aan Die Pos gesê na afloop van die nasionale verkiesing.

Die DA se steun het in Bela-Bela met 2% gedaal, die EFF se steun het met 1% gestyg en die Vryheidsfront Plus (VF Plus) se steun het op ’n verrassende wyse met 7% in die Sonskyndorp gestyg. Die ANC se steun het met 3% gedaal.

Die DA het altesame 3 106 nasionale stemme en 3 049 provinsiale stemme uit Bela-Bela getrek. Die EFF was derde met 1 843 nasionale en 2 111 provinsiale stemme en die VF Plus ’n kortkop agter hulle met 1 488 nasionale en 1 251 provinsiale stemme.

Volgens statistieke van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het die DA-kiesers van Bela-Bela se steun op nasionale vlak met 2% en op provinsiale vlak met 4% gedaal.

Ras het by navraag aan Die Pos gesê kiesers wat nie wou gaan stem nie, was meestal dié uit die omgewing se informele nedersettings.

Uit die syfers vir Limpopo blyk dit dat slegs 56% (1 470 222 stemme) van die aantal mense wat geregistreer was (2 608 460) die moeite gedoen het om by die stembus uit te kom.

Op ’n vraag hoekom die DA vanjaar swakker as in 2014 gevaar het, het Ras gesê die DA-leierskap moes liefs in aanloop tot die verkiesing uit een mond gepraat het om stabiliteit vir kiesers te skep.

“Ons moet leer uit ons foute van die afgelope vyf jaar, daaraan werk en mense aanhou oortuig dat die DA betroubaar is. Van nou af gaan dit oor aanhoudende bewyse dat ons beslis die werk kan doen.”

Opposisieraadslede meen steeds dat hulle weinig ondersteuning uit ANC-beheerde administrasies ontvang en hulle hande is dus afgekap. “Daar moet dringend aandag aan diensleweringspro-
bleme geskenk word. Die DA-lede is bereid om dit te doen,” het Ras gesê.

“Die gemeenskap kan saamstaan om probleme aan plaaslike regerings deur te gee sodat dit aandag kan geniet. Dit is egter slegs die ANC-administrasie wat op hierdie stadium die mag het om dié probleme uit te sorteer. Indien hulle dit nie doen nie, moet die gemeenskap hande met die DA vat om die sake verder te voer,” het Ras gesê.

  • Gerugte het kort voor die verkiesing die ronde in Bela-Bela begin doen dat Ras beoog om ná die verkiesing as raadslid te bedank. Hy het egter in reaksie hierop aan Die Pos gesê hy bly steeds as DA-raadslid by die Bela-Bela-munisipaliteit aan en sal sy pligte as wyksraadslid en lid van die uitvoerende- en finansiële komitee van die munisipaliteit, nakom.

“Al wat verander het, is dat ek in die proses is om my onderneming na Pretoria uit te brei,” het hy gesê. “Ek het steeds belange in Bela-Bela, maar gaan voortaan tussen Gauteng en Limpopo pendel. Ek is steeds beskikbaar vir munisipale sake en om die gemeenskap se probleme aan te hoor en te hanteer.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button