Local newsNews

ANC verloor steun in Bela-Bela

Die meerderheid van Bela-Bela se kiesers — net soos die res van Suid-Afrka — het op Woensdag 8 Mei tydens die nasionale verkiesing gewys dat hulle die ANC vir nog vyf jaar aan die stuur van sake wil hê.

Volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se syfers het daar uit die 30 745 geregistreerde kiesers in Bela-Bela, altesame 12 495 nasionale stemme en 11 528 provinsiale stemme vir die ANC gegaan.

Dit beteken dat die ANC se steun in Bela-Bela met ongeveer 3% afgeneem het en dat 62% van die kiesers die ANC gesteun het in vergelyking met 2014 se 65% was.

Zachariah Moeletsi, voorsitter van die ANC se substreek en huidige speaker van die Bela-Bela-munisipaliteit, het in ’n onderhoud met Die Pos gesê hy het groter steun verwag. “’n Afname in ons steun is iets waaroor ons bekommerd moet wees.” Die daling kan volgens hom toegeskryf word aan inwoners se ontevredenheid oor plaaslike dienslewering.

Moeletsi meen ook dat die jeug nie juis belanggestel het in die stemproses nie en dat dit ook in die nasionale verkiesing weerspieël is.

“Die meeste van ons plaaslike jongmense was nie eens geregistreer nie en sê hulle stel nie in politiek belang nie. Hulle besef nie dat hul stem ’n invloed op hul gemeenskap kan hê nie. Dit is baie belangrik dat jongmense touwys gemaak word oor hul rol binne ons demokrasie,” het hy gesê.

Hy het verder gesê werkskepping is een van die grootste behoeftes in die omgewing.

“Inwoners is desperaat vir werksgeleenthede. Werkskeppingsgeleenthede is egter beperk omdat ons munisipale begroting in die proses van goedkeuring is en fondse baie beperk is.”

Moeletsi het gesê die ANC in Bela-Bela bly passievol oor alle bevolkingsgroepe. “Ons verstaan dat die ekonomie en lewenskoste almal druk. Ons wil hê dat gekwalifiseerde mense op ons munisipale advertensies vir kontrakte moet reageer en dat die geleenthede wat daaruit voortspruit aan mense in ons eie gemeenskap toegeken word.” Moeletsi is dankbaar dat die gemeenskap die ANC weer ’n kans by die stembus gegee het.

“Die ANC kan die volgende munisipale verkiesing in 2021 wen, maar dan moet ons ons beste kandidate voorhou, ons gedrag moet onberispelik wees en die party moet oor belangrike sake op ’n deurslaggewende manier met die gemeenskap kommunikeer,” het Moeletsi gesê.

Hy het gesê dit is nou die tyd vir plaaslike leiers om goeie leierskap te toon.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button