Local newsNews

Twee sterf in vliegongeluk

’n Egpaar van Volksrust in Mpumalanga het gesterf toe hulle ligte vliegtuig op Vrydag 10 Mei by Mountain View Lodge, ongeveer 37 km buite Mookgophong, neergestort het.

Jan Kemp (74) en sy vrou Engela (65) het vir hul seun, Thinus Kemp, op die plaas gaan kuier toe die vliegtuig voor landing vermoedelik enjinprobleme ondervind het. Die vliegtuig waarin die Kemp-egpaar gevlieg het, was ’n Piper PA-38 Tomahawk RT 13B en het omstreeks 13:00 naby die lodge in ’n bergagtige gebied neergestort.

Volgens Thinus het hy sy ouers ingewag en sy pa het verbygevlieg om wind-af te draai vir die landing toe hy besef dat daar ’n probleem met die enjin is. Thinus is self ook ’n ervare vlieënier en het gesê dat sy ouers semi-afgetree was.

Bure en die nooddienste van Mookgophong en Modimolle het dadelik gereageer en hulp verleen. Die impak van die ongeluk was egter groot en die vliegtuig het aan die brand geslaan.

Thinus het eers onlangs as bestuurder by Mountain View Lodge begin werk. Hy het aan Die Pos gesê dat dit die eerste keer was dat sy ouers vir hom sou kom kuier het. Hy woon tans alleen daar en sy gesin is in Langebaan.

Kemp is seker dat sy ouers op slag dood is. Hy het namens hom en sy twee broers almal bedank vir die vinnige optrede en hulp ná die ongeluk.

Mariëtte Nicholson, basisbestuurder van Working On Fire in die Waterberg, het aan Die Pos gesê dat sy omstreeks 13:00 ’n oproep ontvang het dat daar ’n brand in die Swaershoek-gebied is. Sy het dadelik die span van Vaalwater gestuur om hulp te verleen.

Volgens haar man, Richard Nicholson, eienaar van die Benchmark Aviation-vliegskool en voorsitter van die Nylstroom-vliegklub, was Jan Kemp ’n baie gerespekteerde en rustige vlieënier en was hy nou betrokke by die Experimental Aviation Association (EAA) en geliefd onder die lede.

Pappie Maja, woordvoerder van Burgerlugvaartowerheid in die streek, het aan Die Pos bevestig dat ’n ondersoek na die ongeluk gedoen word.

’n Herdenkingsdiens vir Jan en Engela Kemp word op Vrydag 17 Mei om 11:00 by die NG Moedergemeente in Volksrust gehou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button