Local newsNews

Oudinwoner van Bela-Bela oorlede

Willie Loubser (61), oudinwoner van Bela-Bela, is op Saterdag 11 Mei in die Unitas-hospitaal in Centurion oorlede.

Loubser se vrou, Rykie, ’n voormalige onderwyser by Bosveldspruitjies Kleuterskool in die dorp, is in 2014 aan kanker oorlede.

Volgens André Rudolph, ’n jarelange vriend van Willie, het sy gesondheid die laaste twee jaar afgeneem nadat hy hartprobleme ontwikkel het.Hoewel Willie hartoperasies ondergaan en die nodige medikasie gekry het, kon dokters nie veel vir hom gedoen het nie.

“Hy het baie keer vir my gesê hy is bang vir nóg operasies. Hy sou in Junie 62 jaar oud geword het. Hy was nie net ’n vriend vir my nie; hy was soos ’n broer,” het Rudolph gesê.

Loubser is volgens Rudolph in Harrismith gebore en het later saam met sy ouers na Bela-Bela verhuis waar hulle almal in die makelaarsbedryf gewerk het. Hy was die laaste klompie jare van sy verblyf in die dorp by PSG in Lunaweg betrokke.

Willie en Rykie het in 2013 van Bela-Bela na George in die Wes-Kaap verhuis, maar ná Rykie se dood het hy na Centurion verhuis om nader aan sy kinders te wees. Hy het graag tyd saam met hulle deurgebring en ook gereeld in Bela-Bela by die Rudolphs gekuier.

Loubser se roudiens vind op Vrydag 17 Mei om 14:00 vanuit die NG Moedergemeente in Bela-Bela plaas. Hy laat sy kinders Bianca, Willem en Jansen agter.

Related Articles

Back to top button