CrimeNews

Diewe buit wéér talle motorbande

Groot vragmotors word glo geteiken en van hul bande beroof wanneer die bestuurders by oornagplekke aftrek om te slaap.

Diewe het onlangs weer toegeslaan en meer as 20 motorbande by Castle de Wildt buite Modimolle gesteel.

Die diefstal van bande kom volgens die polisie gereeld in dié omgewing voor. Groot vragmotors word glo geteiken en van hul bande beroof wanneer die bestuurders by oornagplekke aftrek om te slaap. Voertuie wat in die dorp geparkeer is, se spaarbande word ook vasgelê, is aan Die Pos gesê.

Die Pos het in Februarie berig oor bandediewe wie se planne deur twee wakker inwoners gefnuik is toe hulle spaarbande onderaan voertuie gesteel het tydens ’n veiling by Castle de Wildt. Andrew Nkosi (45), Motuwa Monama (44) en Samuel Mkunisi (58) is ná ’n kort jaagtog deur mense wat die veiling bygewoon het, aangekeer en het in die hof in Modimolle verskyn. Monama het skuld beken en die saak teen die ander twee is teruggetrek. Motuwa is ná ’n pleitooreenkoms met die staat tot drie jaar tronkstraf gevonnis.

Castle de Wildt het egter weer deurgeloop toe diewe op Donderdagnag 25 April, meer as 20 bande van voertuie en waentjies gesteel het. Volgens AO Anita Pretorius, ondersoekbeampte, het die diewe ook motorbatterye, ’n boorgatpomp, twee hekmotors, sonpanele en toerusting uit ’n stoorkamer gebuit.

“Die draad is op een plek geknip waar hulle vermoedelik toegang tot die perseel verkry het. Die booswigte het nie die eiendom deur die hoofhek verlaat nie, maar deur ’n plek waar voertuigspore langs die grensdraad gekry is.

Dit lyk asof hulle die gesteelde goedere soontoe gedra het,” het sy gesê. Sy het inwoners aangeraai om seker te maak hul voertuie is agter slot en grendel.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die polisie ondersoek die saak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button