BlogsOpinion

‘Lakse’ owerhede gebruik glo Google Earth vir waardasies

Waardeerders wat met miljoene vergoed is, neem ’n kortpad deur van die internet gebruik te maak terwyl waardasies lukraak gemaak word.

Karel Niewenhuis, adjunk- provinsiale leier: Vryheidsfront Plus (VF Plus), skryf:

Inwoners van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het ’n onaangename verrassing gekry toe hulle agterkom hul eiendom is op die hersiene waardasierol ver bo markwaarde herwaardeer.

In die meeste gevalle het eienaars geen kennisgewing ontvang van die sogenaamde herwaardasie nie. Jan Alleman dra ook nie kennis van die korrekte wyse waarop waardasies gedoen word nie en is aan die genade van die owerhede uitgelewer.

Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat waardeerders van die internet, naamlik Google Earth, gebruik gemaak het om eiendomme te waardeer. Hiervolgens kan slegs die volgende inligting verkry word: die grootte en ligging van ’n eiendom, asook die area waar dit geleë is. Hierdie inligting is nie voldoende om ’n eiendom te waardeer nie.

Die korrekte waardasie van eiendom vind aan die hand van ’n titelakte plaas. Die rede hiervoor is voor die handliggend: die moontlikheid bestaan dat ’n eiendom gekonsolideer of onderverdeel is en aanbouings en verbeterings kon aangebring word. Uit ’n titelakte kan ook blyk of daar geldige bouplanne vir aanbouings en verbeterings ingedien is. Ongelukkig kan daar nie op die liasseerstelsel van die stadsbeplanner staatgemaak word nie, aangesien die instandhouding van die stelsel uiters gebrekkig is.

Waardeerders het geen verskoning om van Google Earth gebruik te maak nie, aangesien hulle toegang tot die aktekantoor het. Prokureurs en ander instansies sal ook teen ’n fooi die relevante inligting van ’n eiendom verskaf soos die koop- en verkoopprys, onderverdeling en konsolidasie. Met hierdie inligting tot ’n waardeerder se beskikking, is ’n geldige waardasie moontlik.
Waardeerders wat met miljoene vergoed is, neem ’n kortpad deur van die internet gebruik te maak terwyl waardasies lukraak gemaak word.

Verhoogde waardasie van ’n eiendom lei tot verhoogde belasting. Dit is dus die inwoners wat aan die kortste end trek. Dit kan maande duur om ’n foutiewe waardasie reg te stel. Gedurende hierdie tyd moet inwoners vir belasting, soos gebaseer op die waardasie van hul eiendom, opdok.

Die aangewese optrede is dat ’n hof uitsluitsel sal gee oor die geldigheid van die waardasierol van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit. Die VF Plus raai inwoners aan om hulle te vergewis van die bedrag waarvoor hul eiendom gewaardeer is. Die moontlikheid bestaan dat inwoners ten duurste belas word weens die laksheid van die owerhede.

Related Articles

Back to top button