Local newsNews

Onnie klap glo leerder deur die gesig

’n Aanrandingsaak is deur ’n ouer van Hoërskool Hans Strijdom by die polisie op Mookgophong aanhangig gemaak nadat haar matriekseun glo op die skoolgrond deur ’n besoeker aangerand is.

Die voorval het glo op Woensdag 24 April op die skoolterrein plaasgevind.

Spikkels de Wet, waarnemende hoof van Hans Strijdom, het aan Die Pos gesê hy is bewus van die voorval, maar dat hy eers ’n dag ná die gebeurtenis daarvan te hore gekom het.

Die voorval het glo die aand tydens ’n studiebreek plaasgevind toe die seun na bewering buite die koshuis wou gaan rook het. ’n Onderwyser van ’n laerskool in die dorp het glo iemand by die koshuis gaan aflaai en die seun aangespreek omdat hy wou gaan rook. Daar het toe ’n woordewisseling tussen die laerskoolonderwyser en die matriekseun ontstaan, waarna die onderwyser blykbaar die seun deur die gesig geklap het.

De Wet het aan Die Pos gesê hy veroordeel die voorval en dat sulke gedrag nie op ’n skoolterrein aanvaarbaar is nie. “Die hof moet maar sy loop neem en uitspraak lewer,” het hy gesê. Die veiligheid van leerders by die skool en koshuis is en bly vir hom prioriteit en hy sal alles in sy vermoë doen om dit te verseker, het hy gesê.

De Wet het dit baie duidelik gestel dat die voorval nie in die koshuisgebou plaasgevind het nie, maar buite op die skoolterrein.

Die Pos verneem die betrokke laer-skoolonderwyser het vroeër jare kos-huisdiens by Hans Strijdom gedoen, maar was nog nooit ’n leerkrag by die Hansies nie.

  • Die polisie in Mookgophong het by navraag bevestig dat hulle ’n saak ondersoek. ’n Hofdatum is bepaal vir Woensdag, 15 Mei.

Related Articles

Back to top button