CrimeNews

Vermeende rowers verskyn in hof

Die vyf mans wat na bewering die afgelope paar maande talle rooftogte op die N1-snelweg uitgevoer het, sal in die Bela-Bela- én Modimolle-landdroshowe verskyn.

Die Pos het verskeie kere berig oor rooftogte op die snelweg.

Frans Baloyi (45), Figo Madisha (30), Siphosihle Tshepiso Mahlangu (31), Dennis Hoba (33) en John Fine (33) is op Donderdag 4 April by die Kranskop-tolhek buite Modimolle in hegtenis geneem nadat ’n groep Malawiese toeriste dieselfde aand naby die Settlers-Codrington-afrit buite Bela-Bela beroof is.

Die mans is vasgetrek ná’n gesamentlike operasie deur lede van die Modimolle Cluster-triomisdaadtaakspan, die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, die nasionale intervensie-eenheid van Pretoria en lede van die Heritage Protection Group (HPG).

Die polisie het op ’n rooi Volkswagen, drie handwapens, 31 rondtes ammunisie en vermoedelik gesteelde items beslag gelê.

Die vyf is aangekla van gewapende roof, die besit van ongelisensieerde vuurwapens, die besit van gesteelde eiendom en afpersing, het kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, vroeër gesê.

Sover vasgestel kon word is Baloyi van Soshanguve en Madisha van Springs. Mahlangu, Hoba en Fine is Zimbabwiërs, het sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, vroeër gesê.

Die mans moet in Bela-Bela en Modimolle verskyn, omdat hulle volgens die polisie met misdade in albei polisiewyke verbind word.

Hulle hofverskyning in Bela-Bela vind op Dinsdag 14 Mei plaas en in Modimolle op Woensdag 15 Mei. Die mans moet borgtogaansoeke in albei howe bring.

Related Articles

Back to top button