Local newsNews

Verkiesingskoors loop hoog in Mookgophong

Soos in al die ander dorpe in Die Pos se lesersgebied loop verkiesingskoors in Mookgophong ook hoog en sien baie inwoners daarna uit om hul kruisie op Woensdag 8 Mei te gaan trek.

Die Pos het by ’n paar inwoners gaan aanklop om uit te vind hoe hulle oor die nasionale verkiesing voel. Sommige inwoners het met nostalgie teruggedink aan baie jare gelede se verkiesings en ander is opgewonde om vir die eerste keer hulle kruisie te kan trek.

Maiemela Shai, gr. 12-leerder van Hoërskool Hans Strijdom, het aan Die Pos gesê dat hy dit moeilik vind om sy emosies te verwoord wanneer hy dink aan die veran-dering wat sy stem in Suid-Afrika kan maak. “Om te gaan stem is vir almal die beter keuse as ons ’n verskil wil maak en ek is baie bly dat ek uiteindelik die geleentheid het om te stem,” het hy gesê.

Santie Duvenage, ’n gastehuiseienaar, het gesê dat sy nog nooit van die stembus weggebly het op stemdag nie en dat sy dit beslis ook nie met hierdie verkiesing gaan doen nie. Sy wil net sien dat alles vry en regverdig sal geskied sodat daar ’n beter Suid-Afrika kan wees. Dit is op 8 Mei haar man, Jan, se 60 ste verjaarsdag en ná die stemmery gaan hulle “makietie hou” om dit te vier.

Pieter en Janet Neethling, ook eienaars van ’n gastehuis in Mookgophong, gaan ook stem en Janet hoop dat daar nie ongerymdhede sal wees nie en die stembriewe hul bestemmings onbeskadig sal bereik. Pieter hoop dat alles goed sal afloop sonder enige “intimidasie en voorvalle”.

Floris Booysen, ’n boer van Crecy, gaan beslis stem en dan gaan hy die res van die dag ontspan. Sy verwagting is dat die stemproses vreedsaam sal verloop en dat die uitslae ’n voorspoedige Suid-Afrika tot gevolg sal hê.

Thomas Maluleke, ’n tuinier, wat vanjaar 50 kersies doodblaas en sy lewe lank in Mookgophong woon, het aan Die Pos gesê dat hy in Mookgophong gaan stem. Hy voel dat dit belangrik is om sy stem uit te bring en hy moedig mense aan om dieselfde te doen as hulle verandering wil sien.

Marie Kruger, ’n eiendomsagent in die dorp, sê dat sy as ’n gewone landsburger wat nie te betrokke is by politiek nie, wel opmerk dat die huidige regering se korrupte aksies in ’n groter mate as voorheen oopgevlek word. “Ongelukkig merk ek terselfdertyd dat daar nog baie gevalle van indoktrinasie van onkundige landsburgers plaasvind, veral in die platteland. Soos wat ’n mens met ander mense gesels, kom jy agter hulle glo dat die huidige maatskaplike toelaes vir kinders en pensioentrekkers uit die regerende party se sak kom en begryp nie dat dit eintlik belastingbetalers se geld is wat daarvoor gebruik word nie,” sê Kruger. Sy vertrou dat die stemproses regverdig en vreedsaam sal geskied. Sy hoop dat die meerderheid ’n meer ingeligte besluit sal neem en partye se werklike bedoelings ondersoek sal word.

“Ek gaan op Woensdag 8 Mei wit dra as teken van eenheid met ander Christene as simbool dat God teenwoordig is in die hoop dat geen wanorde sal heers nie en absolute regverdigheid in die hele proses sal geskied. Die gebedsbeweging het ’n landswye veldtog geloods om Christene op te roep om vir hul gemeenskap in gebed te tree,” het sy gesê.

Al die inwoners met wie die koerant gepraat het, was dit egter eens dat hierdie ’n baie belangrike verkiesing in die geskiedenis van Suid Afrika is en dat kiesers nie net emosioneel moet stem nie, maar ook realisties daaroor moet dink voordat hulle ’n kruisie trek.

Related Articles

Back to top button