Local newsNews

Die Valies is ernstig oor stemdag

Met net ’n paar dae oor voor Suid-Afrikaners op Woensdag 8 Mei hul kruisies in die vyfjaarlikse nasionale verkiesing sal trek, loop verkiesingskoors in Vaalwater hoog.

Die Pos het by ’n paar inwoners in dié dorp gaan uitvind hoe hulle oor die verkiesing voel.

Pieter Robbertse, oupa en boer van Vaalwater, sê dat hy in 1994 die eerste keer gestem het. Hy verpes ’n ry en het nog altyd skepties gevoel oor Suid-Afrika se politieke bestel. Hy gaan op stemdag moet werk en hy probeer nie nou “té ver vooruit kyk nie”.

Piet Detle, ’n nutsman in Vaalwater, het gesê dat 1994 ook die eerste keer was dat hy gaan stem het. Detle sê dat hy altyd hoop sal hê omdat hy gekies het om hoop te hê. Hy gaan op stemdag stem en dan vir die res van die dag rustig verkeer, behalwe as daar ’n werkie opduik.

Marinus Cloete, onderwyser by Laerskool Vaalwater, sê hy het die eerste keer in 2014 gestem al het hy reeds in 2010 sy 18de verjaarsdag gevier. Daar is gewoonlik nie toue by Vaalwater se stempunte nie en hy verwag ook nie dat daar vanjaar sal wees nie.

Rea du Preez, afgetrede onderwyser in Vaalwater, het gesê sy kan nie onthou wanneer sy die eerste keer in haar lewe gestem het nie, maar dat dit vir haar lyk asof die “papierwerk” deesdae al hoe meer word. Sy hoop dit sal beter gaan en sy sal beslis haar kruisie op 8 Mei gaan trek. “As ek nog skool gehou het, sou die voordeel van die ekstra afdag my baie gehelp het om my berg skoolwerk in te haal.”

Esbé Joubert, gastehuisbestuurder in Vaalwater, het gesê dat sy glad nie eers wíl onthou wanneer sy die eerste keer gestem het nie. Sy het gesê dat die Here alles in Sy Hande het en dat sy nie haar kop breek oor goed bo haar vuurmaakplek nie. Sy sal stemdag soos elke ander dag hanteer. Sy sal die uitdagings wat op haar pad geplaas word na die beste van haar vermoë hanteer.

’n Paar Valies het laat hoor dat hulle nie gaan stem nie omdat hulle “hul nie met politiek ophou nie en ook nie beplan om hul tyd te mors nie”.

Related Articles

Back to top button