Local newsNews

Laat die kruisies praat

Plakkate wapper teen elke paal en politieke praatjies klink op oor elke radio- en televisiestasie.

Besprekings oor wat die rooi, blou of geel party vir die land inhou duik in bykans elke gesprek op.

Verkiesingsdag is voor die deur en inwoners regoor die land gaan toustaan om hul kruisie langs die naam van hul voorkeurparty te trek.

Dié proses om ’n gunsteling- politieke party te kies om die toekoms van die land te bepaal — sou hulle ’n meerderheid behaal — begeester sommige mense en laat ander heeltemal koud. Daar is dié wat erns maak van die reg om hul stem te laat geld en oplees en navors waarvoor elke party staan. Daar is ook dié wat sê Woensdag 8 Mei is ’n heerlike dag om laat te slaap en hul wintersklerekas uit te sorteer.

Die reg om ’n keuse uit te oefen oor wie die septer oor jou toekoms swaai, is ’n onlangse een. Vir millenia is die wêreld grotendeels deur konings, despote en ander ondemokratiese leiers geregeer — ten goede én ten kwade.

Demokrasie is ’n politieke stelsel van besluitneming waar alle inwoners ’n ewe groot aandeel het in die kies van verteenwoordigers in die regering. Die Griekse hoofstad Athene word gesien as die geboorteplek van demokrasie — in die sewende eeu voor Christus is ’n dominerende adelstand wat groot ekonomiese en sosiale probleme veroorsaak het, omvergegooi. In hul soeke na ’n beter stelsel wat na al die inwoners omsien, is die eerste stappe in die rigting van ’n demokratiese bestel geneem.

Dis egter die Romeinse regeringsmodel waarop die hedendaagse demokrasieë gebaseer is.

Selfs in onlangse, meer demokratiese stelsels was stemreg beperk slegs tot vry mans. In die Verenigde Koningkryk het vroue ouer as dertig jaar wat eiendom besit eers in 1918 die reg om te stem verkry. In 1928 het mans en vroue gelyke stemreg gekry.

In die Verenigde State van Amerika het beide geslagte gelyke stemreg in 1920 ontvang. In Frankryk kon vroue vir die eerste keer hul stem laat geld in 1945.

Die Suid-Afrikaanse geskiedenis, waar slegs ’n gedeelte van die bevolking stemreg gehad het, is welbekend. In die Kaap kon gekwalifiseerde mans van kleur wat voldoen het aan eiendoms- inkomste- en onderrigvereistes sedert die 1850s stem. Die voorreg is egter nie uitgebrei na die kolonies van Natal, Transvaal en die Oranje Vrystaat toe hulle verenig het met die uniewording in 1910 nie. Slegs blanke mans kon tot die parlement verkies word.

Verskeie veranderinge aan wie stemreg het, is in die komende jare gemaak. Blanke vroue het eers stemreg in 1930 gekry. In die 1970s is stemreg toegelaat in die onafhanklike tuislande waar inwoners vir kandidate wat deur die regering gekies is kon stem.

Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing, waar almal se stem ewe swaar geweeg het, het op 27 April 1994 plaasgevind. Altesame 19 politieke partye het deelgeneem en 22 miljoen Suid-Afrikaners het die voorreg gehad om hul stemme te laat geld.
Gaan jy? —

Bronne: www.sahistory.org.za, www.brittanica.com, www.wikipedia.co.za(.)

Related Articles

Back to top button