Local newsNews

Moederskap selfs vir koninklikes ’n uitdaging

Dit is nie altyd maklik om in die postmoderne era ’n ma te wees nie.

’n Ma moet eintlik deesdae ’n supervrou wees wat baie balle in die lug kan hou.

Selfs koninklike ma’s kyk anders na moederskap as ’n paar dekades gelede. Hulle dring daarop aan om meer betrokke te wees by die daaglikse doen en late van hul kinders. Dink maar aan prinses Charlene van Monaco wat haar kinders meestal self op pretuitstappies vergesel en ook self vir hulle swemlesse aanbied.

Die hertogin van Cambridge, Kate Middleton, is ook baie betrokke by die grootmaak van haar en prins William se drie kinders.

Kate het onlangs tydens ’n liefdadigheidsaksie in Engeland haar ondervinding en uitdagings van moederskap met ander ma’s gedeel.

Dit was die hertogin se bydrae om die nuwe organisasie “FamilyLine” aan die Britte bekend te stel. Dié organisasie het ten doel om hulp te verskaf aan ouers wat sukkel om die skoene van ouerskap vol te staan. Hulle kan by dié organisasie vir raad en ondersteuning aanklop.

Die hertogin het tydens haar spreekbeurt erken dat die rol van ouerskap soms oorweldigend kan wees. Sy het gesê dat vroue dikwels net ná die geboorte van hul babas baie hulp ontvang, maar daarna tas ’n mens maar in die duister rond. Sy het gesê sy besef dat alle ouers dwarsoor die wêreld dieselfde uitdagings in die gesig staar.

William en Kate is die ouers van prins George (5), prinses Charlotte (3) en prins Louis (wat aan die einde van April ’n jaar oud geword het).

Hoewel dié koninklike paartjie min persoonlike inligting oor hul kinders deel, sal die hertogin soms tydens haar openbare optredes iets laat deurskemer oor haar kinders se grille en giere.

Soos onlangs die geval waar sy tydens ’n ontmoeting met dansers van die Royal Ballet erken het dat klein Charlotte besonder lief is vir dans.

Related Articles

Back to top button