CrimeNews

Dié man gesoek nadat skote buite Bela-Bela klap

’n Plaaswerker van Bela-Bela het met sy lewe daarvan afgekom nadat daar op Maandag 15 April skote op hom gevuur is.

Volgens sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het die plaaswerker, wie se naam nie bekend gemaak is nie, op die plaas bekend as Outpost, op die R516-pad na Thabazimbi, op ’n trekker gery toe hy twee onbekende mans op die plaas gesien rondloop het.

Die plaaswerker was onder die indruk dat die twee besig was om onwettig hout op die plaas bymekaar te maak en hy wou die twee konfronteer.

“Die twee verdagtes het die bosse ingevlug toe hulle die plaaswerker gesien het. Toe die werker naderkom, het een man uit die bosse verskyn en met ’n handwapen op hom geskiet.

“Die plaaswerker is gelukkig nie getref nie en kon vlug,” het Maponya gesê.

“Die verdagtes het die eiendom wederregtelik betree en die polisie ondersoek die saak verder.”

’n Kunstenaarskets van een van die verdagtes is intussen aan Die Pos uitgereik sodat die publiek kan help om die verdagtes uit te ken.

  • Twee dae voor dié voorval by Outpost, is nóg ’n plaaswerker, William Maluleka (55), deur ’n groep rowers doodgeskiet. Die voorval het by ’n hoewe naby die bekende S-draaie in die omgewing van die Roodepoort-hoewes plaasgevind.Die rowers het tydens die rooftog ’n handwapen onder Maluleka se ken gedruk en hom doodgeskiet. Sy vriendin, Anna Mokloki (61) wat saam met hom gewoon het, is in die bors geskiet maar het oorleef.Die rowers het onder meer voertuigbatterye, ’n kragopwekker, ’n televisiestel, selfone en ’n Mahindra-bakkie gesteel. Die grondeienaar was ten tyde van die voorval uitstedig. Sover vasgestel kan word het die gesteelde eiendom aan Maluleka behoort, het Maponya gesê.

    Kapt. Annemarie Smith, waarnemende speurtakhoof, het vroeër gesê die gesteelde bakkie is kort ná die insident verlate in Mamelodi buite Pretoria gevind.

    Enigiemand met inligting oor albei sake, kan vir kapt. Renier Schutte, ondersoekbeampte, bel by tel. 082 565 9051, of skakel die polisiestasie by tel. (014) 736 9733/9755.

Related Articles

Back to top button