CrimeNews

Man in hof ná ‘hondegevegte’

Die 29-jarige Madiba Hofney Maluleka het op Woensdag 17 April in die streekhof in Modimolle verskyn op 12 aanklagte wat verband hou met beweerde hondegevegte en wreedheid teenoor diere, asook die onwettige besit van wilde diere.

Maluleka, wat as ’n veiligheidswag op die dorp werk, is op Dinsdagoggend 9 April in hegtenis geneem. Lede van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het op altesame 22 honde, drie skilpaaie en drie varke op sy eiendom beslag gelê. Die honde se wonde het, volgens ’n woordvoerder van die DBV, tekens getoon dat hulle vermoedelik in gevegte gebruik en daar met hulle gejag is.

Tydens sy verskyning het die staat nie sy borgaansoek teengestaan nie, maar gevra dat daar streng voorwaardes aan gekoppel word. Die hof het gehoor dat hy nie ’n vlugrisiko inhou nie en dat hy familielede op die dorp het. Borgtog van R5 000 is voorgestel. Maluleka se regsverteenwoordiger het egter aangevoer dat hy slegs borgtog van R1 000 kan bekostig. Dit sou deur ’n familielid betaal word.

Landdros Hannes Stoffberg het beslis dat Maluleka vrygelaat word op borgtog van R3 000 en dat hy vir die duur van die hofsaak geen wilde óf mak diere mag besit nie. Hy mag glad nie betrokke wees by enige spel waarin diere gebruik word nie, spesifiek hondegevegte of jagtogte. Maluleka moet die polisie binne 24 uur in kennis stel indien hy van adres verander.

’n Verteenwoordiger van die nasionale DBV het ook die hofsaak bygewoon. Die saak is uitgestel tot Vrydag 31 Mei vir verdere ondersoek.

Die honde, meestal pitboelterriërs, bulterriërs en boerboele, is in die sorg van die DBV waar hulle behandeling vir hul wonde ontvang en gesteriliseer sal word, het Die Pos verneem.

Enige inwoner kan hondegevegte anoniem by die DBV se spesialiseenheid aanmeld deur tel. (011) 907 3590 te skakel of ’n e-pos te stuur aan nspca@nspca.co.za(.)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button