Local newsNews

Partyleier sê elke stem tel

“Moenie dit glo as mense sê jy mors jou stem as jy vir ’n kleiner party stem nie.”

Met die nasionale verkiesing om die draai, lê politici landwyd baie kilometer af om hul ondersteuners te besoek.

Die Vryheidsfront Plus se leier, dr. Pieter Groenewald, het Modimolle op Woensdag 17 April besoek.

Groenewald het onder meer gepraat oor waar Suid-Afrika homself op hierdie stadium bevind.

Die veiligheid van landsburgers was een van die besprekingspunte.

“Ek was ontsteld om gisteraand te hoor dat daar ’n burgerlike aksiegroep in Mokopane op die been gebring moes word om mense se veiligheid op die N1-snelweg te verseker weens rooftogte, kapings en verkragtings. Dit is die regering se plig om dit te doen,” het hy gesê.

“Ek hoor dikwels mense sê hulle is klaar met politiek, maar as ’n mens ’n verskil wil maak, sal jy betrokke moet raak. Politiek bepaal die wette en omstandighede in die land.”

Groenewald het gesê mense moet hulle nie laat afsit deur syfers nie. Geen enkele party sal die ANC onder die 50% kerf bring nie. Dit sal ’n koalisie van verskeie partye moet wees.

“Moenie dit glo as mense sê jy mors jou stem as jy vir ’n kleiner party stem nie. Ons het ’n proporsionele kiesstelsel en stem nie vir ’n enkele kandidaat nie. Die persentasie stemme wat ’n party kry, bepaal die persentasie van die 400 sitplekke in die parlement wat hy kry,” het hy verduidelik.

Hy glo dat die oppossisie as koalisie die regerende party opdraende kan gee.

“Moet ook nie wegbly van die stembus nie. As tien mense stem en ses van hulle stem vir een party, beteken dit dat die party 60% steun gekry het. As een van die oorblywende vier nie stem nie, beteken dit dat die grootste party se steun met 66% groei”

Hy het inwoners aangeraai om kundig te raak wat die politiek betref.

Groenewald het te velde getrek daarteen dat Afrikaans by universiteite verwyder word en Engels die voertaal word. “Engels word nie net ten koste van Afrikaans gebruik nie, maar ook ten koste van ander taalgroepe in ons land.”

Hy het ook onderwerpe soos onwettige immigrante, die herstel van die ekonomie, onteiening sonder vergoeding wat nie net boere raak nie, asook ’n verkleinde staatsdiens, bespreek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button