LettersOpinion

MRK werk selektief met haatspraak

Hoe is dit moontlik dat ’n regering wat vrylik die woord demokrasie rondgooi, hulle blind en doof hou vir uitsprake soos “ons vra nie vir die slagting van witmense nie, ten minste nie vir nou nie”?

Karel Niewenhuis, adjunk- provinsiale leier: Vryheidsfront Plus, skryf:

Dit is ’n kwade dag as ’n instelling soos die Menseregtekommissie (MRK) nie tussen reg en verkeerd onderskei nie.

Daar word subjektief na uitsprake wat die mensdom na hul asems laat snak, as “dit klink net na haatspraak” verwys. Meer as een van politici se dreigemente klink nie net vir regdenkende landsburgers na haatspraak nie, maar raak aan die wese van hul bestaan.

Die VF Plus slaag daarin om die MRK te kry om die afstootlike slagspreuk “Kill the boer, kill the farmer” as haatspraak te bestempel. Hoe is dit moontlik dat ’n regering wat vrylik die woord demokrasie rondgooi, hulle blind en doof hou vir uitsprake soos “ons vra nie vir die slagting van witmense nie, ten minste nie vir nou nie”?

Hierdié nou al bekende frase deur Julius Malema eggo deur die hele beskaafde wêreld. Hy toon geen respek vir menseregte soos deur die Grondwet voorgeskryf word nie en die MRK goël met semantiek. Die bitter pil om te sluk is nie die verwaandheid van ’n radikale leier nie, maar die betekenisvolle stilswye van die regering. Die regering se opdrag is om landsburgers te beskerm, hetsy teen die emosionele skade wat ’n uitspraak soos hierdie tot gevolg het of die uitvoer daarvan.

Die MRK gaan selektief te werk oor wat haatspraak is waardeur hulle geloofwaardigheid onder verdenking kom. Dit is slegs onder druk of aanklagte van ’n party soos die VF Plus dat die MRK leiers soos Malema en Andile Mngxitama tot orde roep. Die instelling behoort verantwoordelikheid te neem vir rassistiese uitsprake, haatspraak en die opsweping om tot geweld oor te gaan. Die teenoorgestelde is egter aan die orde van die dag. Radikales word gesterk om rasseverdeling aan te vuur. Waarom kan sekere leiers hulle op menseregte beroep terwyl hulle ander se menseregte vertrap?

Op die vooraand van die verkiesing word haatspraak deel van die politieke retoriek van sommige partye. Daar bestaan weinig beskerming vir minderheidsgroepe teen aanslae soos hier bo na verwys word.

Die geveg om regverdigheid en menswaardigheid vir almal gaan nie na die verkiesing ophou nie. Solank daar genoeg landsburgers is wat ’n vreedsame en demokratiese bestel voorstaan, sal die stryd aanhou.

Related Articles

Back to top button