MunicipalNews

Nie’n enkele inwoner in sig by belangrike vergadering

’n Vergadering waar die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) met inwoners van Wyk 11 in Modimolle bespreek sou word, het op ’n bloutjie uitgeloop nadat nie ’n enkele inwoner opgedaag het nie.

Die munisipaliteit bespreek op dié jaarlikse vergadering die geïntegreerde ontwikkelingsplan, begroting en tariefver-hogings met inwoners en hulle kry die geleentheid om hul insette te lewer.

Projekte wat met die volgende boekjaar se befondsing aangepak sal word, word ook bespreek.

Marlene van Staden (burgemeester), Johann Abrie (wykraadslid), Melusi Mahlangu (hoof- finansiële beampte), Dikalo Sintumule (bestuurder: stadsbeplanning en ekonomiese ontwikkeling) en Walter Masetly (GOP-bestuurder) was op Maandag 8 April daar om die inwoners se vrae oor die munisipaliteit te beantwoord.

Die vergadering is op wyk 11-se Whatsapp-groep afgekondig, asook in Die Pos-koerant geadverteer.

“Hierdie is inwoners se enigste geleentheid om insette en kommentaar op die ontwikkelingsplan en begroting te lewer. Die onus berus op inwoners om uit te vind hoe die volgende jaar se begroting hulle raak. Ons kyk na ’n aansienlike verhoging in ons kragtariewe wat beslis inwoners se sakke sal raak,” het Van Staden gesê.

Die GOP-vergaderings wat reeds in ander wyke gehou is, is volgens haar goed bygewoon.

Die vergaderings word in die komende week in ander wyke ook gehou. Die vergaderings vind om 17:00 op die volgende datums plaas: Wyk 8 (Donderdag 18 April by Phagameng High School), Wyk 12 (Dinsdag 23 April by Koro Creek), Wyk 13 (Woensdag 17 April by die watertoring in Wyk 12) en Wyk 14 (Woensdag 24 April by die Thusang-gemeenskapsentrum in Roedtan).

Navrae kan aan die GOP-kantore gerig word by tel. (014) 718 2043.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button