Local newsNews

Waar kom dié simbole vandaan?

Wanneer die herfs sy eerste koue vingers begin uitsteek, is daar niks soos die reuk van varsgebakte Paasbolletjies om ’n mens te laat uitsien na ’n langnaweek nie.

Die Paasnaweek lê weer voor die deur en die winkelrakke kreun met Paaseiers, Paashase, lamsboud en wat nog. Die Pos het gaan kyk na die oorsprong van Paasfees se bekendste simbole.

Christene wêreldwyd vier tydens Paasfees Christus se kruisiging en opstanding. Die kruis is ’n simbool van die oorwinning oor die dood.

Talle van die gebruike en simbole het volgens geskiedkundiges hul oorsprong in heidense gelowe wat nuwe lewe en lente vier. Mettertyd is nuwe betekenis aan van dié gebruike glo geheg om dit met Chris-tenskap te versoen.

Die immergewilde Paaseier is ’n eeue oue gebruik. In talle ou beskawings was die eier ’n simbool van vrugbaarheid en geboorte. Kenners sê die gebruik om eiers tydens die Pase te versier, het sy oorsprong in ’n vroeë Christen-gemeenskap in Mesopotamië gehad wat die eiers rooi gevlek het ter na- gedagtenis aan die bloed van Christus wat tydens die kruisiging gestort is. Die eiers is gesien as ’n simbool van die leë graf.

Die bekende Russiese juweliers, die Huis van Fabergé, het naam gemaak toe hulle van 1885 tot 1916 uitsonderlike Paaseiers wat met juwele versier was vir die Russiese koningshuis gemaak het.
In hedendaagse tye is die eiers vervang met stroopsoet sjokolade- en malvalekker weergawes wat by die dosyne verorber word.

Die Paashaas het vermoedelik in die 1700’s in Amerika voet aan wal gesit saam met Duitse immigrante. Hase, bekend dat hulle vlytig voortplant, is ’n antieke simbool van vrugbaarheid. Die Duitsers het hul tradisie van die haas wat eiers lê, bekend as “Osterhase”, saamgeneem. Kinders het klein nessies gemaak waarin die diertjie sy gekleurde eiers kon lê. Lekkergoed is die volgende oggend uitgedeel. Dié storie het die verbeelding aangegryp en die gebruik het wyd versprei.

Paasbolletjies met hul geurige reuk van kaneel en neutmuskaat en soeterige wit kruis, se oorsprong is nie heeltemal bekend nie. Sommige vertel dat dié soetbroodjies terug dateer tot in die 12de eeu nadat ’n Anglikaanse monnik die broodjies gebak en met ’n kruis versier het. Hy het dit glo aan die armes in die gemeenskap uitgedeel.

Lamsboud word tradisioneel deur baie gesinne gedurende Paasfees voorgesit. Die gebruik se oorsprong word toegeskryf aan die Joodse Pasga wat op dieselfde tyd as Paasfees gehou word. Volgens die Joodse geloof is die bloed van ’n lam aan ’n deurkosyn gesmeer om hul gesin te beskerm. Daar word ook na Jesus verwys as “die lam van God”.

— Bronne: www.thekitchn.com, www.history.com, www.wikipedia.com

Related Articles

Back to top button