LettersOpinion

Politici en publiek moet by reëls hou

Verkiesingstyd is weens verskeie redes senutergend vir almal en veral vir politici.

Amanda de Lange, Vryheidsfront Plus-raadslid: Mogale City, skryf:

Verkiesingstyd is weens verskeie redes senutergend vir almal en veral vir politici wat weens al die reëls en regulasies moet mooitrap om nie die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se gedragskode te oortree nie.

Die bepalings en reëls van die gedragskode is in gelyke mate van toepassing op al 36 partye wat geregistreer is om in Gauteng, en in die res van die land, aan die verkiesing deel te neem, ook op die partye wat hulle kenmerkend nie aan die bepalings en reëls van die OVK steur nie. Altesame 14 “nuwe” partye wat nie vantevore aan ’n verkiesing deelgeneem het nie, is vanjaar deel van die groep.

Sommige van die reëls en bepalings is as volg:

  • Politieke partye mag op geen wyse vals, misleidende of lasterlike inligting van ’n ander party versprei nie.
  • Geen politieke party word toegelaat om op stemdag stemme te werf nie — nie deur die uitreiking van pamflette, SMS’e, telefoonoproepe of straatprojekte nie.
  • Politieke partye en partyagente mag nie kiesers by hul voertuie by aankoms by die stemlokale gaan haal nie.
  • Politieke partye en partyagente mag nie kiesers se toegang tot die stemlokaal vir enige rede versper of belemmer nie.
  • Dit is baie belangrik dat kiesers slegs by die OVK geregistreer moet wees om te stem en nie by ’n politieke party nie. Sommige partye mislei kiesers hieroor. ’n Kieser kan wel lid van ’n politieke party wees, maar by die OVK alleen as kieser geregistreer wees.
  • Dit is ook misleidend en onwaar om ’n kieser te laat glo dat ’n ander party “te klein” is en dat ’n stem vir daardie klein party vermors sal word. Suid-Afrika het ’n proporsionele kiesstelsel wat beteken dat elke stem tel, ongeag die grootte van die politieke party waarvoor daar gestem word.
  • Kiesers moet daarop let dat, hoe nader dit aan stemdag kom, hoe feller is die veldtogte van deelnemende partye. Die handskoene kom af, tande word gewys en partye grom vir mekaar. Te midde van al hierdie chaos moet kiesers in gedagte hou dat die verkiesing binnekort verby is.

Die heel belangrikste is om te onthou dat die verkiesing nie oor die politieke partye gaan nie, maar oor die kiesers, hul beste belange en ’n beter toekoms.
Om te stem is ’n grondwetlike reg.

Related Articles

Back to top button