Local newsNews

Sit Paasfees by mooi gedekte tafel aan

Om ’n tafel vir Paasfees te dek, is soms moeiliker as om die tradisionele Kerstafel te dek, maar dit hoef gasvroue beslis nie hoofbrekings te besorg nie.

Paasfees is vir Christene ’n belangrike gebeurtenis en gesinne vier dit meestal saam om die kruisdood en opstanding van Jesus te herdenk. Pers en blou is tans gewilde keuses vir die Paastafel.

Hoewel nie almal in die simboliek van Paashase glo nie, is dit tog so ’n voor die handliggende geleentheid om al die hase wat jy het, uit te krap om die tafel mee te versier.

Die geblomde blou borde is mooi en Ouma se ou linneservette is die stukkie luukse op die tafel. Bederf jou geliefdes met lekker lamsboud en groente uit die wenakker.

 

Hasies van draad, porselein en hout is my keuse om die tafel vir twee mense mooi te maak. ’n Engel uit hout gekerf, wat onlangs van Mosambiek koers gekry het, is wit geverf en hou ’n wakende oog oor die hase op die tafel. Ouma se servette lê sierlik op die pragtige blou geblomde borde. ’n Handgeverfde keramiekvaas om hoogte te gee en bont blomme vir ekstra kleur om die tafel op te vrolik, is vir my ’n moet.

Op die servet is ’n takkie Franse laventel om ’n heerlike geur te versprei. Die eenvoudige pers blommetjie laat my dink aan die purper koningsklede van destyds.

’n Doringkrans van droë takkies om die simboliek van die kruisiging uit te beeld, kan ook ’n mooi versiering wees. Dit hoef egter nie vaal en dooierig te lyk nie en gekleurde blomme, linte en hasies kan ’n mooi prentjie maak. Die blou simboliseer die donkerblou lug agter Jesus se kruisiging.

Paasfees is ook ’n fees van vreugde, vrede en verlossing en moenie in somberheid gehou word nie. Koop gekleurde Paaseiers en bederf jou gesin en geliefdes in dié wonderlike feestyd.

Related Articles

Back to top button