Local newsNews

Hoe het die Paashaas dan in die kerk beland?

“Die haas moes besluit wie soet of stout was en die soet kinders is dan met sjokolade beloon.”

Miljoene gelowiges vier jaarliks tydens Paasfees die opstanding van Jesus Christus.

Maar hoe het “buite-faktore” soos die Paashasie en Paaseiers dan die simbole van Paasfees geword?

Die Pos het ds. Neels van Tonder, leraar van die Nederduitse Hervormde Kerk in Bela-Bela en ywerige navorser, genader om meer uit te vind.

“Die storie van die Paashaas het oorspronklik as volkslegende in Duitsland ontstaan waar lidmate van die Lutherse Kerk die storie na die hedendaagse kerk gebring het.”

Die doel daarvan was glo om kinders aan te spoor om “soet en gehoorsaam” te wees.

“Die haas moes besluit wie soet of stout was en die soet kinders is dan met sjokolade beloon,” het Van Tonder gesê.

“Volgens die legende het die haas ’n mandjie met gekleurde eiers daarin met hom saamgedra. Soms is die haas met veelkleurige klere voorgestel,” het hy gesê. “Die eiers was eintlik net lekkers of sjokolade wat aan die kinders uitgedeel moes word. Soms is daar ook speelgoed uitgedeel.”

Die eerste keer dat daar na die haas verwys is wat vir kinders eiers gebring het, was in ’n storie, De ovis paschalibus (Die Paaseiers), wat Georg von Franckenau in 1682 geskryf het.

Volgens Van Tonder is die legende van die Paashaas waarskynlik ’n uitbreiding van ’n baie ouer volksverhaal wat in die Germaanse paganistiese godsdienste bestaan het.

“Volgens dié tradisie het ’n haas met die eerste nuwe maan tydens die aanbreek van die lente sy verskyning gemaak en aan ’n klomp hasies geboorte gegee. Die geboorte van dié klomp hasies het as ’n simbool van vrugbaarheid en die ontwaking van nuwe lewe gedien.”

Die aanbreek van die lente is in al die godsdienste in die Noordelike Halfrond op ’n feestelike wyse gevier as die aanbreek van nuwe lewe, het Van Tonder gesê.

“Hoewel verskeie pogings al gevolg het om ’n verband tussen die ou paganistiese verering van die haas en die voorstelling van die Paashaas in die Christelike godsdiens te lê, kon só ’n verband nog nooit onomwonde bewys word nie.”

In die Noordelike Halfrond is die haas tydens die Middeleeue as ’n gewilde motief in die kerk gebruik. Dit het in geen stadium as ’n simbool van vrugbaarheid gedien, soos by die paganistiese godsdienste nie, het Van Tonder gesê.

“In die Duitse Protestante kerke is die idee van die Paashaas later uitgebrei met die eet van gekleurde eiers om die aanbreek van die lente met sy gekleurde bloeisels te vier,” het hy gesê.

“Die storie is al oorvertel dat gekleurde eiers eeue gelede in die tuin weggesteek is en dat die kinders daarna moes gaan soek. Die kind wat ’n sekere kleur eier sou vind, sou daarna geoffer word. Hierdie storie is egter glad nie waar nie en is slegs ’n versinsel wat opgedis is.”

Van Tonder meen, net soos die haan wat op die kerktoring staan, dat mense nie te hard moet probeer om afgodediens in die simboliek van die Paashaas te soek nie.

“In die Noordelike Halfrond het die Paashaas niks meer as ’n simbool van die aanbreek van die lente in die Paastyd geword nie.”

Related Articles

Back to top button