Local newsNews

Egpaar verruil Bosveld vir Wes-Kaap

Jarelange inwoners van Modimolle, Wessel en Tineke Pretorius, roep die Bosveld vaarwel toe om in George in die Wes-Kaap te gaan aftree.

“Ons het weer tydens ons vakansie verlede jaar daar ons harte op die Wes-Kaap verloor en toe dit tyd raak vir aftree, het die keuse maklik op George geval,” het Wessel (71) gesê. “Ons 36 jaar in die Bosveld was goeie jare en ons neem moeilik afskeid van al die wonderlike mense wat ons lewens op soveel wyses verryk het.”

Die egpaar is in 1985 in die destydse Nylstroom getroud en het op die plaas Rietfontein naby Loubad geboer voordat hulle sewe jaar gelede dorp toe verhuis het. Hulle het twee kinders. Hul seun MW is in 2012 tragies oorlede en hul dogter Michelle woon in Pretoria.

Benewens boerdery en die georganiseerde landbou, het hulle ook op ander terreine en veral op kerklike gebied ’n groot rol gespeel. As lidmate van die NG-gemeente Waterberg het hulle in die Witkerk oor baie jare saam met bekende oudleraars soos dr. André du Toit en di. Kobie Breedt en Wollie Wolhuter aanbid.

Wessel is ’n boorling van die Springbokvlakte.

Hy het by Laerskool Byzonderheid op Roedtan skoolgegaan en later aan Hoërskool Piet Potgieter in Mokopane. Hy het in 1965 aan Hoërskool Nylstroom ge-matrikuleer. Hy het bosbou gestudeer en nadat hy op van die mooiste plekke in die land gewerk het, in 1983 teruggekeer Bosveld toe om saam met sy pa, wyle Tienkie Pretorius, te boer.

Wessel was ook betrokke by die Doornfontein Geloftefees saam met Pieter Prinsloo, Ouboet Benadé en Roelf Odendaal. Hy het oor die jare verskeie fondsinsamelingsprojekte in die vorm van 4×4-byeenkomste vir die Loubad-boerevereniging en later vir die Sonstraalskool vir Buitengewone Onderwys se jaarlikse pretdag by Aardwolf gereël. Die laaste paar jaar het hy hom toegespits op kontrakspuitwerk en aftipe-suiwering vir ’n saad-mieliemaatskappy wat ouer-saadproewe in die gebied aanplant.

Tineke (60) was vir baie jare saakgelastigde by die Witkerk waar sy ’n groot rol gespeel het in die wel en weë van die gemeente. Sy was baie geliefd.

Sy is in Holland gebore en was ’n jong meisie toe die Bogaards-gesin na Suid-Afrika geëmigreer het.

Haar twee broers, Jaco en Chris, en suster Anita Pretorius woon steeds in die omgewing.

Sy het ná skool vir ’n tydperk by die SA Vroue-leërkollege gewerk en was uiteindelik ’n adjudant by die eenheid. Sy het verpleegkunde gestudeer en later ’n BA-graad in sielkunde verwerf.

“Ons groet die hele gemeenskap en wens hulle net die beste toe. Ook besonder dankie aan Die Pos se mense wat oor ’n lang tydperk deel van ons lewens was,” het Wessel gesê.

Related Articles

Back to top button