CrimeNews

Lewenslank vir moordenaar

Die voorval, waartydens die babadogtertjie met ’n pik doodgekap is, het op Woensdag 2 Mei 2018 in Mookgophong by ’n sinkhuisie waar die veroordeelde man saam met sy ma gewoon het, plaasgevind.

’n Man (27) van Mookgophong wat na bewering sy ses maande oue dogtertjie op grusame wyse vermoor het, is op Maandag 18 Maart in die Hooggeregshof in Polokwane lewenslange gevangenisstraf vir dié misdaad opgelê.

Die voorval, waartydens die babadogtertjie met ’n pik doodgekap is, het op Woensdag 2 Mei 2018 in Mookgophong by ’n sinkhuisie waar die veroordeelde man saam met sy ma gewoon het, plaasgevind.

Volgens die ondersoekbeampte in die saak, konst. Ben Kekana van die polisie in Mookgophong, het Lesiba Albert Motsayi (toe 26) omstreeks 16:30 op die betrokke dag na sy vervreemde vriendin en die ma van hulle dogtertjie, Modjadji Marikela, se huis gegaan. Marikela was in ’n nuwe verhouding betrokke. Motsayi het aan haar gesê dat sy ma graag haar kleindogter wil sien.

Nadat hy die kind na sy ma se huis geneem het, het hy teruggekeer na Marikela se huis. ’n Argument het ontstaan tussen Motsayi en Marikela. Volgens Marikela het hy haar met die kaalhand aangerand, waarna hy ’n skroewedraaier uitgehaal het en probeer het om haar daarmee te steek. Sy het ontvlug. Motsayi het egter aan haar gesê dat hy hulle dogtertjie gaan doodmaak omdat sy ontrou aan hom was.

Marikela se jonger suster, Mahlatje Marikela, het dadelik na die ouma se huis gehardloop en haar gevra om die baba in ’n tweede sinkgeboutjie op die perseel weg te steek. Die ouma het haarself en die baba in die kamertjie toegesluit, maar Motsayi het die deur met ’n skoffelpik oopgebreek. Die tante het die dogtertjie by die ouma geneem en probeer vlug, maar Motsayi het die kind by haar gegryp. Hy het die baba een keer met ’n lang naald in die kop en maag gesteek en haar toe op die grond gegooi en haar een hou met ’n pik gekap.

Motsayi het ’n tou gegryp en wou vlug, maar het eers die baba ’n tweede keer met die pik gekap en daarna in die bosse verdwyn. Hy is omstreeks 22:45 naby sy huis gewaar en deur konst. Kekana en Mabotsha met behulp van die gemeenskap, in hegtenis geneem.

Die ernstig beseerde baba is intussen deur bure na die kliniek in Mookgophong geneem en daarna per ambulans na die Voortrekker-hospitaal in Mokopane gebring. Sy is oorgeplaas na die provinsiale hospitaal in Mokopane waar sy omstreeks 22:00 aan haar beserings beswyk het.

Motsayi is ’n verdere twee jaar gevangenisskap opgelê op die klag van aanranding van Marikela. Dié klag sal gelyktydig met die moordvonnis uitgedien word.

“Ek is tevrede met die vonnis en dink die familie kan nou berusting vind en probeer aangaan met hulle lewens alhoewel dit nooit heeltemal sal genees nie,” het Kekana aan Die Pos gesê.

Kapt. Mape Modiba, hoof van die speurafdeling van die polisie in Mookgophong, het Kekana geloof vir sy goeie werk en die goeie diens wat hy aan die gemeenskap lewer.

Die Provinsiale Kommissaris van die SAPD in Limpopo, lt. kol. Nneke Ledwaba, het ook in ’n verklaring sy tevredenheid oor die vonnis uitgespreek en sy versekering gegee dat misdaad teen onskuldige kinders nie geduld sal word nie.

Related Articles

Back to top button